Concorde | ||
---|---|---|
Tipe | Passasiersvliegtuig | |
Bemanning | 3 tegniese en 6 kommersiële vlieëniers | |
Eerste vlug | 2 Maart 1969 | |
Laaste vlug | 24 Oktober 2003 | |
Vervaardigers | Aérospatiale British Aircraft Corporation | |
Afmetings | ||
Lengte | 62 m | |
Vlerkspan | 26 m | |
Hoogte | 11,40 m | |
Vlerkoppervlak | 328 m² | |
Massa en kapasiteit | ||
Leë gewig | 92 080 kg | |
Maksimale opstyggewig | 185 070 kg | |
Passasiers | 100 passasiers | |
Bagasies | 4 347 kg maksimum | |
Kragbron | ||
Enjins | 4 Rolls-Royce/Snecma Olympus 593-enjins | |
Werkverrigting | 4 X 17 260 Kgp of 69 040 Kgp totaal | |
Snelheid | ||
Kruissnelheid | Mach 2,04 (2 519,4 km/h) | |
Maksimale snelheid | Mach 2,23 (omtrent 2 754 km/h) rekord opgestel op 26 Maart 1974 | |
Afstand | 6 300 km | |
Vlieghoogte | 20 000 m | |
Snelheid tydens opstyging | 5 500 tot 6 500 m/min |
Die Concorde was 'n lang, smal vliegtuig met ’n skerp gepunte neus wat teen meer as dubbel die snelheid van klank kon vlieg. Die supersoniese passasiersvliegtuig is gemeenskaplik deur die Franse en Britse lugvaartnywerhede vervaardig. Naas die Russiese Toepolef-144 was dit een van slegs twee supersoniese passasiersvliegtuie wat ooit vervaardig en in diens geneem is. Die vliegtuig, wat die tegniese naam Aérospatiale-BAC Concorde 101/102 gedra het, is volgens die ooreenkoms van 29 November 1962 tussen die Franse en Britse regerings oor 'n tydperk van 15 jaar ontwikkel en deur die Franse maatskappy Aérospatiale (tans EADS) en die Britse British Aircraft Corporation (tans BAE Systems) gebou.
Die besluit om 'n nuwe supersoniese vliegtuig te ontwikkel het op 'n kritieke tydstip vir die Britse lugvaartnywerheid gekom, nadat alle ontwikkelingsprogramme van militêre supersoniese vliegtuie gestaak is. Die Concorde-projek het 'n belangrike bydrae tot die behoud van supersoniese navorsing gelewer en was een van die voorlopers van Europa se Tornado-vegvliegtuig wat gebruik maak van Concorde se deltavlerkontwerp tydens supersoniese snelhede.
Die kruissnelheid van die Concorde was 2,04 Mach teen 'n vlieghoogte van tussen 15 650 en 18 000 meter. Dit het net soos die Franse Dassault Mirage 2000-vegvliegtuig oor deltavormige vlerke en nabrander-enjins beskik wat oorspronklik vir die Britse Avro Vulcan-bomwerper ontwikkel is. Die Concorde was ook die eerste passasiersvliegtuig voor die Airbus wat van elektroniese vliegtoerusting voorsien was.
Die eerste kommersiële dienste van British Airways en Air France op die Transatlantiese roete is op 21 Januarie 1976 ingestel. Hierdie gesogte vlugte was peperduur en het die vliegtyd vanaf Parys en Londen na New York met tussen drie en drie en 'n half uur verkort. Ná 'n noodlottige ramp naby die Paryse lughawe, waarin 113 mense gesterf het, is alle Concorde-vlugte op 31 Mei (Air France) en 24 Oktober 2003 (British Airways) gestaak. Die ramp, wat deur die bandbreuk van 'n Amerikaanse vliegtuig veroorsaak is, was die eerste in 27 jaar se diens. Die vliegtuie was egter oud en dit sou te duur wees om nuwes te bou.[1]