Die deuterokanonieke boeke (van antieke Grieks vir "behorende tot die tweede kanon") is boeke en dele van boeke wat die Katolieke, Oosters-Ortodokse, Oriëntaal-Ortodokse Kerke en Assiriese Kerk van die Ooste beskou as kanonieke boeke van die Ou Testament, terwyl Protestantse kerke hulle as apokriewe boeke beskou. Hulle dateer van 300 v.C. tot 100 n.C., meestal van 200 v.C. tot 70 n.C, voor die definitiewe skeiding tussen die Christelike kerk en Judaïsme.[1][2][3]
Terwyl die Nuwe Testament nooit uit die boeke aanhaal of hulle noem nie, het die apostels die Septuagint, wat hulle insluit, dikwels aangehaal. Sommige mense sê daar is 'n ooreenkoms van gedagtes,[4][5] en ander sien tekste van dié boeke waarna dikwels in die Nuwe Testament verwys word, na gelang van wat 'n mens as 'n verwysing beskou.[6]
Hoewel daar geen konsensus onder geleerdes is oor wanneer die Hebreeuse kanon klaar saamgestel was nie, meen sommige dit was lank voor die 1ste eeu n.C. – selfs so vroeg as die 4de eeu v.C.[7]
Die Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Bybel in Grieks, wat die vroeë Christene as hulle Ou Testament gebruik het, het al die deuterokanonieke boeke ingesluit. Dié term onderskei die boeke van beide die protokanonieke boeke (die boeke van die Hebreeuse kanon) en die apokriewe boeke (wat nie in die Christelike kerke kanonieke boeke is nie).[8]
Die Konsilie van Rome (382 v.C.) het 'n lys boeke van die Skrif as kanonieke boeke gedefinieer. Dit het die meeste van die deuterokannonieke boeke ingesluit.[9]