Dmitri Sjostakowitsj | |
---|---|
Dmitri Sjostakowitsj in 1950 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Дми́трий Дми́триевич Шостако́вич Dmitri Dmitrijewitsj Sjostakowitsj |
Gebore | 25 September 1906 Sint Petersburg, Russiese Ryk |
Sterf | 9 Augustus 1975 Moskou, Sowjetunie |
Beroep(e) | Komponis en pianis |
Dmitri Dmitrijewitsj Sjostakowitsj Russies: Дми́трий Дми́триевич Шостако́вич; 25 September [O.S. 12 September] 1906–9 Augustus 1975) was 'n Russiese komponis van die Sowjet-tydperk.
(Sjostakowitsj het 'n komplekse verhouding met die Sowjetregering gehad; sy musiek is twee keer amptelik veroordeel, in 1936 en 1948, en sy werk is van tyd tot tyd verbied. Terselfdertyd het hy een van die gewildste Sowjet-komponiste van sy generasie gebly en het hy verskeie lofbetuigings en staatstoekennings ontvang. Hy het ook in die Opperste Sowjet gedien.[1]
Ná 'n aanvanklike avant-garde-periode het Sjostakowitsj hoofsaaklik by 'n romantiese styl gehou, sterk beïnvloed deur Mahler. Hy het dit egter gekombineer met atonaliteit en per geleentheid toonrye. Sy musiek sluit baiekeer skerp kontraste en elemente van die groteske in. Sy grootste werke word meestal beskou as simfonieë en strykkwartette, vyftien van elk; ander werk sluit in operas, ses konserte en ’n beduidende hoeveelheid rolprentmusiek. Laurel Fay kom in Grove tot dié gevolgtrekking: "Te midde van die teenstrydige druk van amptelike vereistes, die ontsettende lyding van sy landgenote en sy persoonlike ideale van humanitêre en openbare diens, het hy daarin geslaag om 'n musikale taal met enorme emosionele krag te skep."[2]