Onder die term dwergster word gewoonlik ’n hoofreeksster verstaan. Dit is verreweg die talrykste soort sterre en het ’n groot genoeg massa om kernfusie te ondergaan. Die hoofreekssterre wat tans onder die Morgan-Keenan-stelsel in verskillende spektraaltipes geklassifiseer word, gebruik die letters O, B, A, F, G, K en M, wat strek van warm tot koud.
Klas | Voorbeeld | Temperatuur | Massa | Radius | Ligsterkte |
---|---|---|---|---|---|
O | Zeta Ophiuchi | 30 000 K of meer | 8 M☉ | 5,4 R☉ | 1 630 L☉ |
B | Regulus A | 10 000–30 000 K | 3,5 M☉ | 4 R☉ | 150 L☉ |
A | Delta Leonis | 7 500–10 000 K | 2,2 M☉ | 2,4 R☉ | 25 L☉ |
F | Theta Bootis | 6 000–7 500 K | 1,5 M☉ | 1,8 R☉ | 4,4 L☉ |
G | Son | 5 500–6 000 K | 1 M☉ | 1 R☉ | 1 L☉ |
K | Epsilon Eridani | 4 000–5 500 K | 0,8 M☉ | 0,8 R☉ | 0,3 L☉ |
M | Gliese 581 | 2 500–5 500 K | 0,3 M☉ | 0,4 R☉ | 0,002 L☉ |
Daarteenoor is niehoofreekssterre dié wat al gevorderd is en waarvan die waterstofvoorraad uitgeput is. Hulle het daarom uitgesit en het ’n groter ligsterkte.
Die term "dwergster" is oorspronklik in 1906 uitgedink deur die Deense sterrekundige Ejnar Hertzsprung, wat opgemerk het die rooiste sterre, wat as Klas K en M in die Harvardstelsel geklassifiseer word, kan in twee groepe ingedeel word: dié wat helderder as die Son is en dié wat dowwer is. Om ’n onderskeid te tref, het hy hulle onderskeidelik "reusesterre" en "dwergsterre" genoem.[1] Vandag word feitlik alle hoofreekssterre dwergsterre genoem.
Ander stellêre en substellêre voorwerpe het ook "dwergster" in hul naam, maar is nie hoofreekssterre nie en dus nie werklik dwergsterre nie: