’n Egskeiding, ook bekend as die ontbinding van ’n huwelik, is die proses waardeur ’n huwelik of burgerlike verbintenis beëindig word.[1] Dit behels gewoonlik die kansellering of herorganisasie van die wetlike pligte en verantwoordelikhede van ’n huwelik volgens die wette van die land of deelstaat waarin die betrokkenes woon. Egskeidingswette wissel grootliks van land tot land,[1] maar in die meeste lande word die bekragtiging deur ’n hof of ander owerheid in ’n regsproses vereis, en dit kan insluit die verspreiding van besittings,[2] toesig oor die kinders,[2] onderhoud, besoekregte by die kinders en die verdeling van skuld. Monogamie word in die meeste lande vereis en ’n egskeiding stel albei partye in staat om met iemand anders te trou.
’n Egskeiding is iets anders as ’n nietigverklaring, waardeur die huwelik nietig verklaar word. Redes vir ’n egskeiding wissel van seksuele onaanpasbaarheid tot ’n persoonlikheidsbotsing.[3]
Die enigste lande wat nie egskeidings toelaat nie, is die Filippyne die Vatikaanstad en die Britse Kroongebied Sark.[4]