Die Europese Ruimtevaartorganisasie (Engels: European Space Agency, afkorting ESA; Frans: Agence spatiale européenne, ASE; Duits: Europäische Weltraumorganisation) is ’n interregeringorganisasie wat op 30 Mei 1975 gestig is vir die verkenning van die ruimte. Dit het tans 22 lidlande. Die hoofkantoor is in Parys, Frankryk. Die ESA het ’n personeel van meer as 2 000 (wat subkontrakteurs en nasionale ruimteagentskappe uitsluit) en ’n begroting van sowat €4,28 miljard (in 2013).[1]
Die ESA se ruimtehawe is die Guyana-ruimtesentrum in Kourou, Frans-Guyana, ’n ligging wat gekies is omdat dit so na aan die ewenaar is en kommersieel belangrike wentelbane van daar af toegankliker is. In die Ariane 4-tydperk het die ESA die posisie van markleier in kommersiële ruimtelanserings ingeneem en in die afgelope paar jaar het dit homself gevestig as ’n belangrike rolspeler in ruimteverkenning.
ESA-wetenskapsendings is gebaseer in Noordwijk, Nederland, aardwaarnemingsendings in Frascati, Italië, ESA-sendingbeheer is in Darmstadt, Duitsland, en die Europese Ruimtevaardersentrum, wat ruimtevaarders vir toekomstige sendings oplei, in Keulen, Duitsland. Die amptelike tale is Engels, Frans, Duits, Italiaans, Nederlands en Spaans.[2]