Gereformeerde kerk Colesberg | ||
Sluit in | Colesberg en distrik Norvalspont | |
Klassis | Burgersdorp | |
Huidige predikant(e) | Izak van der Westhuizen | |
Belydende lidmate | 32 | |
Dooplidmate | 10 | |
Adres | Stockenströmstraat 30 Colesberg, Oos-Kaap | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 8 Desember 1860 | |
Eerste predikant | P.J.J. Viljoen (1869–1879) |
Die Gereformeerde kerk Colesberg is die derde oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die destydse Kaapprovinsie en is gesetel op die Noord-Kaapse dorp Colesberg.
Ds. Dirk Postma het die gemeente op 8 Desember 1860 op die plaas Hamelfontein in die distrik Colesberg gestig. Die eerste dienste op die dorp is in 'n pakhuis gehou wat later die slaghuis van die heer Rosenberg sou word. Later het 'n pakhuis van die firma Draper en Plewman, in latere jare die motorhawe van die heer Kocks, as plek van samekoms gedien. Hierna is 'n privaat woonhuis, later die eiendom van die heer I.S. du Plessis en geleë langs die teenswoordige kerkgebou, as plek van aanbidding ingerig.
Die kerkraad kon nie op 18 Mei 1861 besluit of hulle die kerk op die dorp of op 'n plaas sou bou nie. 'n Sakeman, D. Sluiter, het daarop £1 000 van die nie-Gereformeerdes vir die boufonds beloof as die kerk op die dorp self gebou sou word. Hy het self kontrakteur vir die bouwerk geword en dit met groot moeite voltooi. 'n Kerk in die distrik sou tot 'n groot afname in sakebedrywighede op die dorp lei en die stigting van 'n nuwe kerkdorp beteken. Ds. Postma het die lidmate aangeraai om dit vir eers op die dorp te beproef. Die NG kerkraad het 'n erf geskenk aangrensend tot dié wat Douw. G. Steyn reeds geskenk het en selfs hul lidmate opgewek om tot die Gereformeerde boufonds by te dra. Iewers in die middelveld, oorkant die Seekoeirivier, sou dan 'n hulpkerk vir buitedienste gebou word. Teen Augustus 1861 kon met die beplanning van die kerkgebou begin word en die hoeksteenlegging is op 15 Maart 1862 onder ds. Postma se leiding deur oudl. I.D. du Plessis waargeneem. Hy en sy vrou, Hester Venter, was medestigters van die gemeente saam met onder andere haar vader, J.A. Venter.
Die kerkgebou is reeds in die jaar 1862 voltooi, maar blykbaar ná dié van die gemeente Middelburg, Kaap, aan wie se kerkgebou 'n plaket aangebring is wat lui: "Hierdie gebou, in gebruik sedert 1862, is die oudste kerkgebou van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika." Die preekstoel was 'n regte kunswerk vir sy tyd en het £200 gekos.
In die eerste jare het ds. Postma self die gemeente as konsulent bedien. Later tree ds. Johannes Beijer, destyds predikant van die Gereformeerde kerk Reddersburg, as konsulent op. In 1869 is die eerste leraar in die persoon van prop. Petrus Viljoen beroep. Hy was toe reeds 'n man van gevorderde leeftyd en dien die gemeente tot sy aftrede in 1879. Hy is opgevolg deur ds. L.J. du Plessis, wat 17 jaar hier gearbei het en toe 'n beroep na Petrusburg aanvaar het.
In 1883 het die Gereformeerde kerk Philippolis uit Colesberg afgestig, en daarna volg die uittog na Griekwaland-Wes vanweë die ontdekking van diamante waardeur die gemeente se ledetal met amper die helfte afgeneem het en die gemeente finansieel so swak geword het dat, ten einde in die lopende uitgawes te voorsien, jaarliks 'n sommetjie bygeleen moes word sodat, toe ds. Du Plessis vertrek, die kerkraad nie in staat daartoe was om dadelik weer 'n leraar te beroep nie. So het Colesberg vakant gebly van 1896 tot 1910. In laasgenoemde jaar het prop. P.W. Bingle die beroep hierheen aangeneem en die gemeente bedien tot in 1921.