Gereformeerde Kerk Harrismith | ||
Sluit in | Drakensville Harrismith Jagersrust Kestell Tshiame Van Reenen Verkykerskop Warden | |
Denominasie | Gereformeerde Kerk | |
Klassis | Klassis Oos-Vrystaat | |
Huidige predikant(e) | Philip Wepener | |
In kombinasie met | Ladysmith | |
Belydende lidmate | 77 | |
Dooplidmate | 15 | |
Adres | H.v. King- en Stuartstraat Harrismith | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 1938 | |
Eerste predikant | A.L. Aucamp (1939–'42) |
Die Gereformeerde kerk Harrismith is ’n gemeente in die GKSA se Klassis Oos-Vrystaat met sy middelpunt op die dorp Harrismith, maar dit sluit ook Drakensville, Jagersrust, Kestell, Verkykerskop en Warden in. Einde 2014 het die gemeente 75 belydende en 12 dooplidmate gehad, vergeleke met 90 en 45 einde 2001.
Die gemeente het ná sy afstigting van Bethlehem in 1938 baie klein begin en eers eredienste in verskillende lidmate se huis gehou. Namate die lidmate toegeneem het, het hulle begin byeenkom in die Moth-saal, maar eers in die sestigerjare was daar genoeg geld om ’n eie kerk op te rig, hoewel daar selfs aan die begin van daardie dekade net 49 belydende en 35 dooplidmate was.
’n Slaghuis is aangekoop en as kerkgebou ingerig, maar enkele jare later is dié gebou verkoop en ’n meer geskikte opgerig, wat in 1968 in gebruik geneem is nadat ds. Postma die hoeksteen op 27 Januarie daardie jaar gelê het. Die NG gemeente Harrismith het sy ou preekstoel aan die Gereformeerde kerk geskenk omdat hy ook indertyd ’n nuwe kerk laat bou het. Eers was daar ’n serfyntjie-orrel voor in die kerk, maar dit is later vervang deur ’n elektriese orrel, wat agter in die kerk staan.