Die Gereformeerde kerk Sterkstroom was ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die Noordoos-Kaapse dorp Sterkstroom wat in 1887 gestig is, maar in 2002 ontbind het nadat daar net 16 belydende, drie dooplidmate en een ouderling en diaken oorgebly het. Destyds is die gemeente nog in kombinasie met Dordrecht en Queenstown bedien deur ds. S.F.F. van der Walt. Die gemeente was in sy 115 jaar lange bestaan deurgaans so klein dat hy net een keer en ook net enkele jare lank ’n inwonende predikant gehad het, weliswaar aangestel in kombinasie met Molteno.