Die wêreld van die twintigste eeu het ’n baie ingewikkelde organisasie geword waarin dit byna onmoontlik is vir een volk om in ’n toestand van afsondering van die res te leef. Die hele aard van die wêreld het verander deur die ontwikkeling van vervoer en verbindingsmiddele. Uitvindings soos die radio was in gebruik geneem om nuus oor die wêreld te flits sonder inagneming van nasionale grense. Internasionale betrekkinge maak die een of ander vorm van wêreldsamewerking noodsaaklik.
Die Eerste Wêreldoorlog het die gedagtes van die mensdom met soveel afsku vir oorlog vervul dat ’n internasionale organisasie gestig is, bekend as die Volkebond, waardeur gehoop is dat alle volke sou saamwerk om wêreldvrede in stand te hou. Die Bond het binne sekere perke goed gedoen, maar het nie daarin geslaag om veel ernstige internasionale vraagstukke op te los nie. Toe nuwe diktators in Europa en die Verre Ooste verrys het, is die wêreld weer in konflik gedompel wat nog verskrikliker as die eerste was. Die pogings van hierdie diktators om die wêreld te oorheers, is egter gedwarsboom, en daar is meer as ooit besef dat die mens se denke in die toekoms op wêreldwye grondslag moet wees as ’n toestand van vrede gehandhaaf moet word. Met dié doel voor oë is die organisasie van die Verenigde Volke geskep as ’n middel om verligting te bring in internasionale spanning en om lande aan te moedig om saam te werk ten einde wêreldvrede en orde te bewaar.
Die gedagte aan die stigting van ’n bond van state as ’n grondslag vir vrede was nie iets nuuts toe dit na die Eerste Wêreldoorlog voorgestel is nie. So vroeg as die sestiende eeu het Sully, ’n minister van Hendrik IV van Frankryk, die idee van ’n bond van volke op ’n vae manier voorgestel. Sy voorstel was dat die Europese state ’n universele Christelike statebond sou vorm met ’n groot raad na wie ernstige geskille tussen die verskillende volke verwys kon word. In die sewentiende eeu het Hugo Grotius, ’n Nederlandse regsgeleerde wat geskok was deur die wrede gevegte en plundery wat die Dertigjarige Oorlog gekenmerk het, ’n stel wette aan die hand gedoen wat oorlogvoering sou beperk en ook die skadelike gevolge sou verminder. Sy werk het die eerste stelsel van internasionale reg uiteengesit en sy boek het ’n sterk invloed uitgeoefen oor die gedagtes van baie mense wat sedertdien gearbei het om die vrede te bewaar, of om die skade van oorlogvoering te beperk.