Goelag (Russies: ГУЛАГ) was in die Sowjet-era die administrasie wat verantwoordelik was vir die bestuur van die land se gevangenekampe. Later is die naam ook vir die kampe self gebruik.
Die naam het in die Weste bekend geword ná die verskyning van Aleksandr Solzhenitsyn se boek Архипелаг ГУЛаг ("Goelag-argipel") in 1973. Hy het die kampe met eilande vergelyk omdat hulle oor die hele Sowjetunie verspreid was. Sowat 10 miljoen mense is na raming in die Goelag dood, Sowjet-burgers sowel as buitelanders soos Duitse, Poolse, Finse en Japannese krygsgevangenes.
Daar was minstens 476 aparte kampkomplekse, wat elk uit honderde of tot duisende individuele kampe bestaan het.[1] Daar word geskat dat daar op enige gegewe tydstip sowat 5-7 miljoen gevangenes was. Een uit elke vyf mans is in die twintigerjare na Goelag-kampe gestuur.[2] Sowat 10% van hulle kon jaarliks gesterf het.[3][4] Die wreedste van die kampkomplekse was waarskynlik die drie noord van die Noordpoolsirkel by Kolima, Norilsk en Workoeta.[5][6]
Hoewel daar baie politieke gevangenes was, was die meeste aangehoudenes nie-politieke gevangenes. Mense is na Goelag-kampe gestuur vir sulke klein oortredings soos wegbly van die werk sonder 'n verskoning, klein diefstalle of die vertel van 'n anti-regeringsgrap.