Deel van 'n reeks oor die |
---|
Geskiedenis van Griekeland |
Griekse Bronstydperk |
Egeïes • Helladies • Sikladies • Minoïes • Miceens |
Antieke Griekeland |
Donker eeue • Argaïes • Klassiek • Hellenisties • Romeins |
Middeleeuse Griekeland |
Bisantyns • Frankies en Latyns • Ottomaans |
Moderne Griekeland |
Die Griekse Donker Eeue of die Geometriese of Homeriese tydperk (omstreeks 1100–800 v.C.)[1][2] is terme wat gebruik word om te verwys na die tyd in die geskiedenis van Griekeland vanaf die veronderstelde Doriese inval en die einde van die Miceense tydperk omstreeks 1100 v.C., tot met die eerste tekens van die poleis van Argaïese Griekeland in die 9de eeu v.C.
Argeologiese bewyse dui op ’n wydverspreide verval van die Bronstyd-beskawing in die oostelike Middellandse See-gebied aan die begin van dié tydperk, aangesien die groot paleise en stede van die Miceense tyd vernietig of verlaat is. Omstreeks dié tyd het die beskawing van die Hetiete groot ontwrigting ondervind en stede van Troje tot Gasa is verwoes.
Ná die verval was daar minder en kleiner nedersettings, wat dui op hongersnood en ontvolking. In Griekeland het geskrewe Grieks in onbruik geraak. Die versierings van potte ná omstreeks 1100 v.C. ontbreek die figuratiewe ontwerpe van die Miceense tyd en is beperk tot kleiner, algemene geometriese style (1000–700 v.C.). Daar is vroeër geglo alle kontak is in dié tyd verbreek tussen Griekeland en buitelandse magte, hoewel bewyse intussen gevind is dat daar wel kulturele en handelsbande met die ooste was, veral die Levant-kus, en van ’n Griekse teenwoordigheid in Siprus en aan die Siriese kus.