Datum van stigting of ontstaan | 1938 |
---|---|
Affiliasie | Universiteit van Kaapstad |
Vernoem na | Groote Schuur |
Land | Suid-Afrika |
Geleë in administratiewe eenheid | Kaapstad |
Geografiese ligging | 33°56′29″S 18°27′46″E |
Ouer organisasie | Western Cape Department of Health |
Telefoon nommer | +27-21-404-9111 |
Amptelike webwerf | http://capegateway.gov.za/gsh |
Die Groote Schuur-hospitaal (afkorting: "GSH", die hospitaal staan in die omgangstaal ook as "Grooties" bekend) is 'n groot staatsbeheerde akademiese hospitaal wat teen die hange van Duiwelspiek in Kaapstad (provinsie Wes-Kaap, Suid-Afrika) geleë is. Die hospitaal is op 31 Januarie 1938 amptelik geopen en het veral danksy die baanbrekende werk van prof. Chris Barnard en sy span, wat hier in 1967 die eerste menslike hartoorplantingsoperasie uitgevoer het, wêreldberoemd geword.
Groote Schuur is die akademiese hospitaal van die Mediese Skool van die Universiteit van Kaapstad wat tersiêre pasiëntesorg en akademiese opleiding in alle belangrike gesondheidsdissiplines aanbied. Die hospitaal is in 1984 aansienlik uitgebrei en van twee nuwe vleuels voorsien. Die ou hoofgebou huisves tans verskeie akademiese kliniese departemente asook 'n museum wat die eerste hartoporplantingsoperasie behandel wat op die pasiënt Louis Washkansky uitgevoer is.
Die hospitaal beskik oor 867 beddens. In November 2007 was meer as 500 dokters, 1 300 verpleegsters en 250 mediese spesialiste aan die Groote Schuur-hospitaal verbonde.[1]