Michail Aleksandrowitsj | |
---|---|
Groothertog van Rusland | |
Groothertog Michail Aleksandrowitsj. | |
Dinastie | Romanof |
Volle naam | Michail Aleksandrowitsj Romanof |
Gebore | 4 Desember 1878 |
Anitsjkof-paleis, Sint Petersburg, Russiese Ryk | |
Gesterf | 13 Junie 1918 |
Perm, USSR | |
Voorganger | Nikolaas II |
Gade van | Natalia Sergejewna Brasowa |
Nakomelinge | Georgi Michailowitsj Brasof |
Vader | Aleksander III |
Moeder | Prinses Dagmar van Denemarke |
Groothertog Michail Aleksandrowitsj van Rusland (Russies: Михаил Александрович; 4 Desember 1878 – 13 Junie 1918) was die jongste seun van keiser Alexander III en die broer van Nikolaas II en die groothertoë Georgi en Aleksander. Aleksander is op 2 Mei 1870, voor Michail se geboorte, op 11 maande dood.
Teen die tyd van sy geboorte was Michail se oupa aan vaderskant (Alexander II) keiser. Michail was die vierde aanspraakmaker op die troon ná sy pa en ouer broers, Nikolaas en Georgi. Ná die sluipmoord op sy oupa in 1881 het hy die derde aanspraakmaker geword en in 1894, ná die dood van sy pa, die tweede een. Sy broer Georgi is in 1899 oorlede. Michail het toe die vermoedelike erfgenaam van die nuwe keiser, Nikolaas II, geword. Die geboorte van Nikolaas se seun, Aleksei, in 1904 het Michail tydelik teruggeskuif na die tweede plek, maar Aleksei het hemofilie gehad en daar is nie verwag hy sou lank lewe nie.
Michail het 'n opskudding aan die keiserlike hof veroorsaak toe hy die getroude Natalia Sergejewna Woelfert as minnares neem. Nikolaas het Michail na Orjol gestuur om 'n skandaal te voorkom, maar dit het Michail nie van stryk gebring nie. Hy het sy minnares dikwels besoek en ná die geboorte van die paartjie se enigste kind, Georgi, in 1910 het Michail Natalia na Sint Petersburg gebring waar sy deur die gemeenskap verwerp is. In 1912 het Michail Nikolaas geskok deur met Natalia te trou in die hoop dat hy van die lys van troonopvolgers verwyder sou word. Michail en Natalia het Rusland verlaat en in bannelingskap in Frankryk, Switserland en Engeland gaan woon.
Toe Nikolaas op 15 Maart 1917 namens homself en sy seun abdikeer, is Michail aangewys as sy opvolger. Michail het egter die aanvaarding van die troon uitgestel totdat dit deur ’n verkose vergadering bekragtig word. Hy is nooit as keiser gekroon nie en tydens die Russiese Rewolusie van 1917 is hy gevange geneem en op 13 Junie 1918 naby Perm vermoor.[1]
Omdat hy nooit regeer het nie, word sy broer Nikolaas II beskou as die laaste de facto-keiser van Rusland. Michail het grootliks 'n vergete voetnoot van die geskiedenis geword. Historici verwys soms na hom as "Michail II, die laaste keiser van Rusland".