Die Gryshemde was die belangrikste van ’n reeks klein fascistiese of proto-fascistiese groeperings wat in die 1930’s en 1940’s in Suid-Afrika gestig is. Aanvanklik het die naam “Gryshemde” slegs na die burgermag van Louis Weichardt se “Suid-Afrikaanse Nie-Joodse Nasionaal-Sosialistiese Beweging” verwys (wat ook as “Suid-Afrikaanse Christelike Nasionaal-Sosialistiese Beweging” bekend gestaan het), ’n beweging van Nazi-simpatiseerders wat in 1933, een jaar ná die stigting van die Suid-Afrikaanse tak van die Duitse Nazi-party NSDAP se buitelandse afdeling NSDAP-AO (NSDAP-Auslandsorganisation), in die lewe geroep is.[1] Die naam is dan ook vinnig gebruik om na die beweging self te verwys.
Weichardt se beweging was net soos sy Duitse voorbeeld besonder anti-Semities, en die Gryshemde is as die Suid-Afrikaanse eweknie van die Duitse Sturmabteilung (SA) georganiseer. Dit was opvallend dat die Gryshemde nie ’n suiwer Afrikaner-beweging was nie, maar eerder op altwee blanke taalgroepe gemik was.[2]
Ondanks sy strewe na eenheid het daar ook in die Gryshemde se geledere verdeeldheid ontstaan sodat ’n aantal kleiner splintergroepe in die lewe geroep is soos Johannes von Moltke se "Suid-Afrikaanse Fasciste". Die meeste van hierdie groepe het onder die leiding van Daniel François Malan saamgesluit tot die "Gesuiwerde" Nasionale Party. Die Gryshemde het geweier om by hierdie beweging aan te sluit en die Suid-Afrikaanse verkiesing in 1938 as ’n selfstandige party met kandidate in drie distrikte aangedurf. Hierdie besluit het uiteindelik geblyk om verkeerd te wees aangesien die Gryshemde hoegenaamd geen impak op die verkiesing gehad het nie.[3]
Die Gryshemde is reeds tevore in Oktober 1934 deur die Nasionale Party in ’n artikel in die Kaapstadse dagblad Die Burger aangeval: “Ons dink dat hierdie party, wat algemeen as die Gryshemde bekend staan en onder die dekmantel van ’n anti-Joodse beweging optree, na ’n gevaarlike regeringsvorm in Suid-Afrika strewe. Hulle doelwit is om van Suid-Afrika 'n diktatuur te maak”.[4]
Die Gryshemde het onder meer ’n politieke veldtog teen die immigrasie van Duitse Jode na Suid-Afrika gevoer nadat in die 1930’s steeds meer Jode ’n nuwe heenkome in die land gevind het. Die Britse Council for German Jewry het ’n skip gehuur om soveel Duitse Jode moontlik na Kaapstad te bring - ’n besluit wat tot ’n massaprotes-aksie van die Gryshemde gelei het. Die fasciste se opposisie teen Joodse immigrasie was van so ’n omvang dat die skryweres Sarah Millan ’n beroep op die destydse eerste inister Jan Christiaan Smuts gedoen het om teen die Gryshemde op te tree. Haar aansoek is nogtans geïgnoreer.[5]
Die Gryshemde se aktiwiteite is gedurende die Tweede Wêreldoorlog gemonitor, en die beweging het hul naam in 1949 gewysig tot Blanke Werkersparty. Teen hierdie tydstip het die meeste lede egter al na die Herenigde Nasionale Party oorgeloop.[6]