Hermanus | |
---|---|
Die kuslandskap van Hermanus | |
Koördinate: 34°25′S 19°15′O / 34.417°S 19.250°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Distrik | Overberg |
Munisipaliteit | Overstrand |
Stigting | 1891 |
Oppervlak | |
• Totaal | 17,81 km2 (6,88 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 10 457 |
• Digtheid | 587/km2 (1 520/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 43.5% |
• Indiërs/Asiërs | 0.6% |
• Bruin mense | 47.2% |
• Swart mense | 7.8% |
• Ander | 0.9% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 76.1% |
• Engels | 20.7% |
• Ander | 3.2% |
Poskode (strate) | 7200 |
Poskode (posbusse) | 7200 |
Skakelkode | 028 |
Webwerf | Hermanus-webwerf |
Hermanus, oorspronklik Hermanuspietersfontein genoem, is 'n kusdorp in die Wes-Kaap, Suid-Afrika, geleë langs Walkerbaai, sowat 115 km suid-oos van Kaapstad en 40 km vanaf Gansbaai. Hermanus is een van 'n reeks Suid-Afrikaanse nedersettings wat sedert die 19de eeu tot gewilde strand- en herstellingsoorde ontwikkel het. Volgens die tradisie van Britse strandoorde is dikwels na Hermanus se skoon seelug verwys. Hermanus was vanaf die 1930's 'n halfeeu lank hoofsaaklik 'n vakansiebestemming vir blanke Suid-Afrikaanse gesinne. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, toe beperkings op toerisme in die buiteland geplaas is, het welvarende afgetredenes hulle hier begin vestig.
Hermanus se toerismebemarking het na die dorp in 1949 verwys as die Riviera of the Cape (Riviera van die Kaap). Vanaf die vroeë 1950's is - met die oog op die veranderende politieke konteks wat ook uitwerkings op die binnelandse toerismemark gehad het - op Afrikaanssprekende blankes as hoofteikengroep gefokus en het Hermanus as gasheerdorp vir konferensies ook 'n gewilde bestemming vir saketoerisme geword.[2]
Vandag is Hermanus veral bekend as een van Suid-Afrika se gewildste haai- en walviskykplekke. Die Wêreldnatuurfonds (WWF) reken die kusdorpie selfs onder die wêreld se twaalf beste walviskykplekke.[3]
Hermanus is die paringsgebied van die Suidelike noorkapper, 'n groot walvissoort. In Augustus, wanneer die eerste kalfies gebore word, vier Hermanus sy Kalfiefees. Die hoof-walvisfees word in September gehou. Die walvisse kom gereeld tot enkele meters van die mense op die land.
Hermanus beskik oor 'n eersterangse toerisme-infrastruktuur en het al verskeie toekennings gewen, byvoorbeeld drie keer as "Skoonste dorp van die jaar in Suid-Afrika". Plaaslike sjefs fokus op seekos, braaikos en Afrika-kookkuns uit lande so ver as Senegal en Ethiopië.[4]