Hester Venter (getroude van Du Plessis, Graaff-Reinet, Kaapkolonie, 30 Januarie 1811 – Colesberg, Kaapkolonie, 24 Januarie 1869) was ’n baanbreker in die Gereformeerde Kerk, die moeder van ds. Louw du Plessis, grootmoeder van dr. J.A. du Plessis, hoogleraar aan die Teologiese Skool op Potchefstroom, en oorgrootmoeder van prof. Wicus du Plessis (1897–1968), akademikus, regsgeleerde, ekonoom en politieke denker, asook prof. Hugo du Plessis, eweneens Gereformeerde predikant en hoogleraar aan die Teologiese Skool. Op haar en haar man I.D. du Plessis se plaas Hamelfontein is die Gereformeerde kerk Colesberg op 8 Desember 1860 gestig deur sy (en moontlik ook haar) toedoen.