H-4 Hercules "Spruce Goose"
| |
---|---|
Tipe | Baie swaarvervoer, vliegboot |
Vervaardiger | Hughes Aircraft |
Ontwerp deur | Howard Hughes (Glenn E. Odekirk) Henry J. Kaiser (slegs die konsep)[1] |
Nooiensvlug | 2 November 1947 |
Onttrek | 2 November 1947, gestoor tot 5 April 1976 |
Status | Projek gekanselleer, museumstuk |
Vervaardig | 1947 |
Aantal gebou | 1 |
Die Hughes H-4 Hercules is 'n prototipe swaarvervoervliegtuig wat deur die Hughes Aircraft-maatskappy ontwerp en gebou is. Die vliegtuig het sy eerste en enigste vlug in 1947 onderneem. As gevolg van hulpbronbeperkings tydens die Tweede Wêreldoorlog, is die vliegtuig uit hout gebou; sy kritici het ook na hom as die "Spruce Goose" ("Spargans") verwys. Die Hercules is die grootste vliegboot wat ooit gebou is en het die grootste vlerkspan en hoogte van enige vliegtuig in die geskiedenis. Die vliegtuig het behoue gebly en word in goeie toestand in die Evergreen Lugvaartmuseum bewaar.[2]
Die H-4 is byna geheel en al uit gelamineerde berkehout gebou, met slegs klein hoeveelhede esdoring, populier, balsahout, en sparhout gebou; ten spyte daarvan dat die bynaam op sparhout dui.[3] Die "Duramold"-proses,[4] 'n vorm van samestellingstegnologie, is gebruik in die lamelhoutkonstruksie. Die vliegtuig is as 'n tegnologiese tour de force beskou: die projek het vliegbote ('n tegnologie wat binnekort uitgedien sou wees) byeengebring met 'n kolossale vliegraam wat werklik vindingryke ingenieursinnovasies geverg het. Op die ou einde was die projek egter 'n duur, vernederende mislukking en teen die einde van die oorlog is dit gekanselleer.