Eerw. Jacobus Cornelis Pauw (Leiden, Nederland, 13 Desember 1837 – Wellington, Kaapland, Suid-Afrika, 13 Junie 1918) was 'n sendeling, medestigter van en leier in die NG Sendingkerk en jare lange dosent aan die Sendinginstituut.
Eerw. Pauw se lewe het in die stad Leiden in Nederland begin en tot op die dag 80 jaar en ses maande later in Suid-Afrika geëindig. Die Suid-Afrikaanse deel van sy ryk en nuttige lewe het in 1861 begin sodat dit uit 57 werkjare bestaan het. Nooit in al dié jare kon hy ooit weer sy geboorteland besoek nie. In Suid-Afrika het hy hom volkome tuisgemaak.
As leraar, prediker en organiseerder plaas hy met welslae al drie gemeentes waar hy gestaan het, op vaste grondslag en bou hulle op stoflike, maar veral geestelike gebied op. Hy was 'n gebore dosent. Naas sy gemeentelike pligte op Wellington was hy ook 34 jaar lank as dosent aan die Sendinginstituut vir die opleiding van sendingleraars van die NG Kerk op Wellington werksaam (1879–1913). Hier het hy die diepste spore nagelaat en heilsame invloed as praktiese sendeling uitgeoefen op die 164 sendelinge (die eerstes van die NG Kerk) wat hy in hierdie periode help vorm het.
Tussen 1891 en 1908 is eerw. Pauw vier keer tot moderator van die Sendingkerk se Sinode gekies. Hy het die vergaderings op waardige en bekwame wyse gelei. Hy het vir die Sendingkerk geleef en gebid. Met reg kan hy as vader van die Kaapse Sendingkerk geroem word. Ook van die gesamentlike konferensie van sendelinge in die Kaapland was hy 'n tyd lank die vertroude leier.
Eindelik, ná 'n onvermoeide arbeid van 48 jaar, was die grysaard, weens hoë ouderdom en toenemende swakheid, genoodsaak om sy bediening neer te lê. Die Kerk, waarvan hy een van die waardigste dienaars was, het hom 'n welverdiende pensioen toegeken. Vir nog drie jaar na sy emeritaat het hy sy werk as dosent aan die Sendinginstituut by Wellington voortgesit. Vir vier-en-dertig jaar was hy werksaam in daardie bekende opleidingskool, en die sukses van die inrigting was grootliks aan hom e danke. Op 13 Junie 1918 is eerw. Pauw sy ewige rus ingegaan.
Eerw. Pauw was drie keer getroud: sy eerste vrou, Cornelia Johanna Linschooten, was Hollands van geboorte en het hom agttien maande na sy aankoms op Zoar ontval (1 September 1862). Daarna trou hy op 29 Oktober 1864 weer met 'n Hollandse dame, Anna Margareta Kirchner (1840–1896), wat reeds enige tyd in Suid-Afrika woonagtig was, die moeder van sy 12 kinders. Hy trou in 1898 met Anna Rath, dogter van die Rynse sendeling eerw. Johannes Rath.