Johannes Meintjes | |
---|---|
Johannes Meintjes | |
Gebore | Johannes Petrus Meintjes 19 Mei 1923 Riversdal |
Sterf | 7 Julie 1980 (op 57) Molteno, Oos-Kaap |
Beroep | Kunsskilder en skrywer |
Nasionaliteit | Suid-Afrikaner |
Eggenoot | Ronell Rossouw |
Kinders | Geen |
Ouers | Ernest Frederick Meintjes en Valerie Keyter |
Handtekening | |
Webwerf | |
Johannes Meintjes |
Johannes Meintjes (Riversdal, 19 Mei 1923[1] – Molteno, Suid-Afrika, 7 Julie 1980) was ’n Suid-Afrikaanse kunsskilder, beeldhouer, amateur-geskiedkundige, skrywer en dramaturg.
Meintjes het reeds voor sy 22ste verjaardag bekend geword. Die aantreklike en aangename, maar intense, broeiende jong kunstenaar het die soort openbare ophemeling of heldeverering geniet wat later jare net die jong ikone van die musiek- of rolprentwêreld beskore sou wees.[2] In ’n resensie van John Coetzee se The Message in 1990 skryf Marina le Roux van Johannes Meintjes hy was “byna die ideale bibliotekaris: kundige vakman, kunstenaar, onvermoeide navorser en onderhoudende skrywer, veral oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis”.[3] Maar dit was by uitstek as kunsskilder dat hy hom vroeg reeds onderskei het toe hy feitlik oornag roem verwerf. Volgens die kunskenner en skrywer Esmé Berman was so iets ongekend in die Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis.[4] Vanweë sy voorkoms en sy nonkonformisme word hy soms beskryf as “Molteno se James Dean”.[4]
Helena Theron, ook in Die Burger, sê hy was “merkwaardig” as kunstenaar sowel as letterkundige.[5] Hoewel hy nie in dieselfde asem as groot Suid-Afrikaanse kunsskilders soos Stern, Laubser of Pierneef genoem word nie, word hy beslis as ’n voorste Suid-Afrikaanse skilder van die 20ste eeu beskou. Die hoogste prys wat ’n skildery van Meintjes tot dusver (middel 2014) op ’n veiling behaal het, was R668 400 vir sy Swazi Landscape op ’n veiling deur Strauss & Co in die Vineyard-hotel, Kaapstad, vroeg in Oktober 2012.[6]
In sy kort leeftyd van net oor die 57 jaar is meer as 1 400 koerantberigte en tydskrifartikels oor hom geskryf. Hy het sowat 1 340 skilderye geskilder, tientalle beeldhouwerke geskep asook honderde sketse, grafiese werke en waterverfskilderye. Sy gepubliseerde werke tel 35, terwyl hy ook tallose ongepubliseerde manuskripte nagelaat het, waarvan talle verlore geraak het.[7]