Johannes van Melle | |
---|---|
Gebore | 11 Februarie 1887 |
Sterf | 8 November 1953 (op 66) |
Nasionaliteit | Nederland Suid-Afrika |
Beroep | Skrywer |
Johannes van Melle (Goes, 11 Februarie 1887 - Johannesburg, 8 November 1953), was 'n Nederlandse en Suid-Afrikaanse skrywer. Sy skrywersnaam was Jan van Melle.
Sy bekendste boek is Bart Nel, 'n klassieke werk van die Afrikaanse letterkunde. Dit vertel die verhaal van 'n boer wie se ontembare gees hom in staat stel om die verwoesting en verlies van sy plaas tydens die oorlog te oorleef, en wat deur sy vrou en familie verlaat word.
Hy het hom in Nederland as onderwyser bekwaam en in 1906 na Suid-Afrika verhuis, waar hy onder meer op Dullstroom en in die distrikte Wakkerstroom en Bronkhorstspruit skoolgehou het. In 1909 is hy terug na Nederland, maar in 1913 het hy hom permanent in Suid-Afrika gevestig.
Gedurende die Rebellie van 1914 het hy hom aan die Rebelle se kant geskaar. Hy is op 18 November 1953 in Johannesburg oorlede. Van Melle het aanvanklik in Nederlands geskryf en sy eerste publikasie was Gedichten uit Zuid-Afrika (1920). Daarna het hy hom op die prosa toegelê en sy eerste Nederlandse prosa het in Het Hollands Weekblad verskyn.
Hierdie werk is later gebundel en is in 1933 met die titel Het stadje op 't groene eiland gepubliseer. Vroeër is sy sketse en kortverhale wat in die Pretoriase blad De Spektator verskyn het, in Zuid-Afrikaanse schetsen (1920) gebundel. Nadat hy hom in 1924 as onderwyser in Johannesburg gevestig het, het hy in Afrikaans begin skryf en Dawid Booysen (1933) was Van Melle se eerste roman.
Van Melle se fyn, objektiewe waarneming van die mens met sy gebreke, maar ook sy egtheid en idealisme, is reeds in hierdie roman, soos in al sy werk later, opvallend. Sy bekendste roman, Bart Nel, het in 1936 onder die titel Bart Nel, de opstandeling verskyn. Hoewel die roman in Nederlands geskryf was, was die dialoog in Afrikaans. In 1942 het hy die boek in Afrikaans verwerk onder die titel En ek is nog hy en later is dit weer as Bart Nel herdruk.
Ook Een lente verspeeld (1949) is later in Afrikaans as Verspeelde lente (1961) uitgegee. Bart Nel en Verspeelde lente is in onderskeidelik 1980 en 1982 vir die Afrikaanse televisiediens van die SAUK opgeneem. Van Melle se derde roman, Saad wat opkom, het in 1949 verskyn. Van Melle was veral bekend om sy baie verdienstelike kortverhale, wat reeds sedert 1924 in Afrikaanse tydskrifte verskyn het.
Hierdie kortverhale het in agt bundels verskyn, naamlik Oom Freek le Grange se derde vrou (1935), Oom Daan en die dood (1938), Vergesigte (1938), Oom Gideon ontmoet die Voortrekkers (1938), Mense gaan verby (1940), Venster aan die straat (1940), Paaie wat wegraak (1941) en Begeestering (1943). Die huwelik van Pop le Roux (1935) en Wraak (1937) is twee toneelstukke wat op van sy prosawerke gebaseer is.