Kaapstad Cape Town (en) iKapa (xh) | |
---|---|
Stad | |
Byname: "Moederstad" | |
Leuse(s): | |
Koördinate: 33°55′31″S 18°25′26″O / 33.92528°S 18.42389°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Munisipaliteit | Stad Kaapstad |
Stigting | 6 April 1652[2] |
Regering | |
• Burgemeester | Geordin Hill-Lewis (DA) |
• Adjunkburgemeester | Eddie Andrews |
• Stadsbestuurder | Achmat Ebrahim |
Oppervlak | |
• Stad | 400,28 km2 (154,55 vk. myl) |
• Metro | 2 444,97 km2 (944,01 vk. myl) |
Bevolking (2011)[4] | |
• Stad | 433 688 |
• Digtheid | 1 083/km2 (2 800/vk. myl) |
• Metro | 3 740 026 |
• Metrodigtheid | 1 500/km2 (4 000/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 32,3% |
• Indiërs/Asiërs | 3,4% |
• Bruin mense | 44,6% |
• Swart mense | 15,8% |
• Ander | 3,9% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 34,9% |
• Xhosa | 29,2% |
• Engels | 27,8% |
• Ander | 8,1% |
Poskode (strate) | 7700–8099 |
Poskode (posbusse) | 8000 |
Skakelkode | 27 (0)21 |
Webwerf | Kaapstad-munisipaliteit |
Kaapstad ([ˈkɑːpstat], Engels: Cape Town [ˈkeɪptaʊn], Xhosa: iKapa) is (as die wetgewende hoofstad) een van die drie hoofstede van die Republiek van Suid-Afrika. Dit is ook die setel van die Suid-Afrikaanse parlement. Die ander twee hoofstede is Pretoria (die uitvoerende hoofstad) en Bloemfontein (die geregtelike hoofstad). Hierbenewens is Kaapstad die administratiewe en parlementêre hoofstad van die provinsie Wes-Kaap en die naasgrootste stad in Suid-Afrika ná Johannesburg.[6] Die Kaapstad Internasionale Lughawe is die naasgrootste lughawe in die land ná Johannesburg–O.R. Tambo.
Kaapstad lê aan die suidkus van Afrika en word ook die Moeder-stad van Suid-Afrika genoem. Die stad is oorspronklik as 'n verversingspos vir Nederlandse skepe op pad na Oos-Afrika, Indië en die Verre-Ooste aangelê. Dit was ook een van die eerste permanente Europese nedersettings in Afrika suid van die Sahara. Hier het die leier van die Goringkhoina in 1652 met die Hollanders van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (in destydse Nederlands: Vereenigde Oostindische Compagnie, VOC) kontak gemaak.
Van 'n klein hawe het Kaapstad vinnig tot die grootste stad in Suid-Afrika ontwikkel, wat eers met die goudstormloop aan die Witwatersrand in 1887 deur die nuutgestigte Johannesburg verbygesteek is. Nogtans huisves Kaapstad volgens die sensus van 2011 met 'n bevolking van 1,3 miljoen die grootste Afrikaanssprekende gemeenskap van enige stad in Suid-Afrika. Dit is ook die enigste groot stad in die land waarin bruin Suid-Afrikaners 'n relatiewe meerderheid van die bevolking vorm.
Kaapstad is danksy sy natuurskoon en sy ligging aan die voet van die wêreldbekende Tafelberg vandag een van die mees gesogte internasionale toeristebestemmings en 'n gunstelingstad van die internasionale rolprent- en reklamebedryf.[7] Volgens 'n studie in 2018 deur Mercer, oor die lewenskwaliteit in 231 stede regoor die wêreld, het Kaapstad die 94ste plek verwerf, die naasbeste in Suid-Afrika net ná Durban. Wat persoonlike veiligheid betref, staan Suid-Afrikaanse metropole egter op die onderste sporte van die leer.[8]
Terwyl die chemiese bedryf van die 1970's af agteruitgegaan het en die plaaslike tekstiel- en skoennywerhede hulle in die 1990's teen goedkoop invoere vasgeloop het, het die vestiging van ondernemings uit die hoëtegnologiebedryf van Kaapstad en sy omgewing 'n spilpunt van navorsing gemaak. Reeds in 1987 het die Kaapstadse Stadsraad en die Kleinsake-ontwikkelingskorporasie met TegnoKaap (TechnoCape) 'n liggaam in die lewe geroep wat beleggings in die hoëtegnologiesektor bevorder het.[9]