Die Kalevala (Fins: Kalevala) is 'n 19de-eeuse werk van epiese gedigte wat deur Elias Lönnrot saamgestel is uit Kareliese en Finse orale folklore en mitologie.[1] Dit vertel die verhaal van die skepping van die aarde, beskryf twispunte en vergeldingsreise tussen die volke van die land Kalevala, wat Väinölä genoem is, en die land Pohjola sowel as hulle onderskeie hoofkarakters en teenstanders en van die bou en diefstal van die epiese mitiese rykdommakende masjien die Sampo.[2]
Die Kalevala word beskou as die nasionale epos van Karelië en Finland,[3] en is een van die belangrikste werke van die Finse letterkunde, saam met J.L. Runeberg se Die verhale van vaandrig Stål en Aleksis Kivi se Die sewe broers.[4][5][6]
Die epiese gedig was instrumenteel in die ontwikkeling van die Finse nasionale identiteit en die verskerping in die Finse taalstryd wat eindelik gelei het tot die Finse onafhanklikheid van Rusland in 1917.[7][8] Die werk is ook intenasionaal bekend en het byvoorbeeld J.R.R. Tolkien se Middelaardse mitologie beïnvloed.[9][10]
Die eerste uitgawe van die Kalevala, wat die Ou Kalevala genoem word, is in 1835 gepubliseer. Dit het 12 078 verse bevat. Die weergawe wat vandag die bekendste is, is die eerste keer in 1849 gepubliseer en bestaan uit 22 795 verse, wat in 50 volksverhale ingedeel word.[11] 'n Verkorte weergawe, wat al 50 verhale maar net 9 732 verse bevat, is in 1862 gepubliseer.[12]
Daar bestaan ook 'n ander versameling van gedigte deur Lönnrot, die Kanteletar, uit 1840 wat algemeen beskou word as 'n "sustersversameling" van die Kalevala.[13]