’n Kleinplaneet (Engels: minor planet) is ’n hemelliggaam wat in ’n direkte wentelbaan om die Son is en wat nie óf ’n hoofplaneet is óf oorspronklik as ’n komeet geklassifiseer is nie. Voor 2006 het die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) die term "kleinplaneet" amptelik gebruik, maar tydens sy 2006-byeenkoms het die vereniging kleinplanete en komete herklassifiseer in twee kategorieë: dwergplanete en klein Sonnestelselliggame (KSSL's).[1]
Kleinplanete kan dwergplanete, asteroïdes, trojane, sentoure, Kuipergordelvoorwerpe en trans-Neptunus-voorwerpe wees.[2] In 2022 was daar 1 131 201 bekende voorwerpe, wat verdeel word in 611 678 genommerde (bevestigde) en 519 523 ongenommerde kleinplanete, waarvan net vyf amptelik as dwergplanete erken word.[3]
Die eerste kleinplaneet wat ontdek is, was Ceres in 1801. Die term "kleinplaneet" word sedert die 19de eeu gebruik om hierdie voorwerpe te beskryf.[4] Die term planetoïde is ook gebruik, veral vir groter voorwerpe[5] wat sedert 2006 dwergplanete genoem word. Histories is die name "asteroïde", "kleinplaneet" en "planetoïde" min of meer as sinonieme gebruik,[5][6] maar die saak het ingewikkelder geraak nadat talle kleinplanete anderkant die wentelbaan van Jupiter en veral Neptunus ontdek is wat gewoonlik nie as asteroïdes beskou word nie.[6] Sommige kleinplanete word dubbel geklassifiseer as komete ook as gasvrystelling waargeneem word.
Voorwerpe word dwergplanete genoem as hulle voldoende massa besit vir hul eie swaartekrag om rigiede liggaamskragte te oorwin, sodat diie liggaam in hidrostatiese ewewig is ('n amper sferiese vorm aanneem). Alle ander kleinplanete word "klein Sonnestelselliggame" genoem.[1] Volgens die IAU mag die term "kleinplaneet" vir laasgenoemde voorwerpe "nog gebruik word, maar in die algemeen word die term 'klein Sonnestelselliggaam' verkies".[7] Vir nommer- en naamdoeleindes word die tradisionele onderskeid tussen kleinplanete en komete steeds gevolg.