Konstantyn die Grote

Konstantyn die Grote
Keiser van die Romeinse Ryk
Konstantyn die Grote.
Konstantyn die Grote.
Regeer 25 Julie 306 - 29 Oktober 312
29 Oktober 312 - 19 September 324
19 September 324 - 22 Mei 337
Volle naam Flavius Valerius Constantinus
Gebore 27 Februarie 272; Naissus, Moesia
Oorlede 22 Mei 337; Nicomedia
Voorganger Constantius Chlorus
Opvolger Konstantyn II
Constantius II
Constans I
Vader Constantius Chlorus
Moeder Helena van Konstantinopel
Eggenote Minervina
Fausta
Kinders Constantina
Helena
Crispus
Konstantyn II
Constantius II
Constans I

Konstantyn I (Latyn: Flavius Valerius Constantinus; Grieks: Κωνσταντῖνος, Konstantinos; 27 Februarie omstreeks 272 - 22 Mei 337), ook bekend as Konstantyn die Grote, was van 306 tot 337 n.C. keiser van die Romeinse Ryk en die eerste een wat die Christelike geloof aangeneem het. Hy is in Naissus, Dacia Mediterranea (nou Niš, Serwië) gebore as die seun van Flavius Constantius, 'n Romeinse weermagoffisier van Illiriese oorsprong wat een van die vier heersers van die Tetrargie was. Sy ma, Helena, was 'n Griek en Christen van 'n lae status.[1][2]

Konstantyn het met lof onder die Romeinse keisers Diocletianus en Galerius gedien. Hy het sy loopbaan begin deur veldtogte in die oostelike provinsies te voer teen barbare en Perse, voordat hy in 305 n.C. na die weste herroep is om saam met sy pa in Britannia te veg. Ná sy pa se dood in 306 het Konstantyn keiser geword. Hy is deur sy leër goedgekeur en het eindelik as oorwinnaar uit die stryd getree in burgeroorloë teen die keisers Maxentius en Licinius. Hy het in 324 die alleenheerser geword.

Ná sy troonbestyging as keiser het Konstantyn verskeie hervormings ingestel om die ryk te versterk. Hy het die regering herstruktureer deur die burgerlike en militêre owerhede te skei. Om inflasie hok te slaan het hy die solidus, 'n nuwe goue muntstuk, ingestel wat vir meer as duisend jaar die standaard vir Bisantynse en Europese geldeenhede geword het. Die Romeinse weermag is herorganiseer om uit mobiele eenhede (comitatenses) en garnisoentroepe (limitanei) te bestaan, en so is interne bedreigings sowel as barbaarse invalle teengestaan. Konstantyn het geslaagde veldtogte gevoer teen die Romeinse grensstamme soos die Franke, Alemanne, Gote en Sarmate en het gebiede wat deur sy voorgangers geïgnoreer is, met burgers met 'n Romeinse kultuur hervestig.

Konstantyn was die eerste Romeinse keiser wat hom tot die Christendom bekeer het. Hoewel hy 'n groot deel van sy lewe as 'n heiden gelewe het, het hy die Christendom in 312 begin verkies en eindelik 'n Christen geword. Hy het 'n invloedryke rol gespeel in die uitvaardiging van die Edik van Milaan in 313, wat verdraagsaamheid teenoor die Christendom in die Romeinse Ryk voorgestaan het. Hy het die Eerste Konsilie van Nicea in 325 byeengeroep wat die verklaring van die Christelike geloof bekend as die geloofsbelydenis van Nicea tot gevolg gehad het.[3]

Die Heilige Grafkerk is in opdrag van hom gebou op die beweerde terrein van Jesus se graf in Jerusalem. Dit is beskou as die heiligste plek in die hele Christendom. Hoewel sommige geleerdes sy geloofsoortuigings en selfs sy begrip van die Christendom bevraagteken,[4][5] word hy in die Oosterse Christendom as 'n heilige vereer en het hy baie gedoen om die Christendom deel van die hoofstroom- Romeinse kultuur te maak.

Die tydperk van Konstantyn het 'n besonderse epog in die geskiedenis van die Romeinse Ryk gemerk, asook 'n deurslaggewende oomblik in die oorgang van die klassieke antieke tyd na die Middeleeue.[6] Hy het 'n nuwe keiserlike woning in die stad Bisantium laat bou en dit herdoop tot Konstantinopel, na homself (nou Istanboel). Dit het daarna vir langer as duisend jaar die hoofstad van die ryk geword (moderne historici verwys na die latere Oos-Romeinse Ryk as die Bisantynse Ryk). Sy onmiddelliker politieke nalatenskap was dat hy die tetrargie vervang het met die de facto-beginsel van dinastiese opvolging deur die ryk aan sy seuns en ander lede van die Konstantynse dinastie na te laat. Sy reputasie het floreer tydens die leeftyd van sy kinders en vir eeue ná sy bewind. Die Middeleeuse kerk het hom beskou as 'n toonbeeld van kuisheid, terwyl wêreldse leiers gedink het hy was 'n simbool van keiserlike legitimiteit en identiteit.[7]

Van die Renaissance af was daar kritieser beskouings van sy bewind vanweë die herontdekking van anti-Konstantynse bronne. Die neiging in moderne geskiedenis is 'n poging om die uiterstes van vorige sienings te balanseer.

  1. Phelan, Marilyn E.; Phelan, Jay M. (8 Junie 2021). In His Footsteps: The Early Followers of Jesus (in Engels). Wipf and Stock Publishers. p. 67. ISBN 978-1-6667-0186-9.
  2. Stanton, Andrea L. (2012). Cultural Sociology of the Middle East, Asia, and Africa: An Encyclopedia (in Engels). SAGE. p. 25. ISBN 978-1-4129-8176-7.
  3. Norwich, John Julius (1996). Byzantium (First American uitg.). New York. pp. 54–57. ISBN 0394537785. OCLC 18164817.{{cite book}}: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)
  4. "Constantine the Great". About.com. Besoek op 3 Maart 2017.
  5. Harris, Jonathan (2017). Constantinople: Capital of Byzantium (2nd uitg.). Bloomsbury Academic. p. 38. ISBN 9781474254670.
  6. Gregory, A History of Byzantium, 49.
  7. Van Dam, Remembering Constantine at the Milvian Bridge, 30.

Konstantyn die Grote

Dodaje.pl - Ogłoszenia lokalne