Konstruksie behels die oprig van privaat geboue soos huise, kommersiële en industriële geboue, sowel as openbare strukture soos riool- en waterwerke, paaie en brûe, publieke behuising, hospitale en skole. Huise kan deur bouers ontwerp word, terwyl groter kommersiële en industriële projekte, met gekompliseerde dienste, deur argitekte en ander konsultante soos ingenieurs ontwerp word.
Konstruksiewerk word ten volle deur argitekte en ingenieurs gedokumenteer, en deur bourekenaars gemeet en kosteberaam. Die tekeninge en boulys vorm die tenderdokumente waarop kontrakteurs ’n tenderprys voorberei. Tenders word op ’n vaste datum oopgemaak. Ná assessering word ’n tender aanvaar, gewoonlik die laagste, waardeur ’n kontrak gevorm word. Tenderwerk kan oop of selektief wees. Dié proses is tydrowend en kan versnel word deur slegs besluite te neem vir onmiddellike werk op terrein, bekend as “fast track”. Dit verg samewerking tussen bouheer, argitek en kontrakteur, en sorgvuldige programmering en beheer.
Die Suid-Afrikaanse konstruksiebedryf se aandeel aan nasionale inkomste fluktueer tussen 2,5% in tye van lae groeikoers tot 5% en hoër in tye van hoë groeikoers. Van die totale uitgawe aan konstruksie word ongeveer 30% aan geboue bestee, en 10% aan residensiële geboue. Die regering, deur die Departement van Openbare Werke, is verantwoordelik vir ongeveer 14% van die totale uitgawe op konstruksie. Konstruksie is arbeidintensief en dus ’n belangrike werkskepper.
Die konstruksiebedryf word geaffekteer deur: politieke stabiliteit, beide intern en op die vasteland van Afrika; deur die onder- of ooraanbod van kleinhandel-, kommersiële of residensiële ruimte; deur die vermoë van die regering om sy begroting te spandeer; en deur internasionale beleggingsvertroue.