Ds. Koos van Rooy | |
Ds. Koos van Rooy
| |
Naam | Jacobus Albertus van Rooy |
---|---|
Geboorte | 9 Augustus 1868 Distrik Albert, Kaapkolonie |
Sterfte | 11 Augustus 1962 (op 94) Pretoria, Transvaal |
Kerkverband | Gereformeerd |
Gemeente(s) | Postmasburg 1895–'98 Waterberg/Pietersburg 1898–'05 Bethulie 1905–'31 |
Jare aktief | 1895–1931 |
Kweekskool | Burgersdorp |
Ds. Jacobus Albertus (Koos) van Rooy (plaas Wonderboom, distrik Albert (Burgersdorp), Kaapkolonie, 9 Augustus 1868 – Pretoria, 11 Augustus 1962) was predikant in drie werkkringe van die Gereformeerde Kerk, naamlik Postmasburg 1895–1898, die kombinasie Waterberg-Pietersburg 1898–1905 en Bethulie 1905–1931. Nadat hy sy emeritaat aanvaar het, het hy tot sy eindelike aftrede in 1941 as sekretaris-penningmeester van die Administratiewe Buro op Potchefstroom gewerk. Met die viering van sy 90ste verjaardag tydens 'n saamtrek op Potchefstroom in Augustus 1958 van sowat 300 familielede, het sen. Jan de Klerk gesê hy sien in ds. Van Rooy meer as 'n mens; hy het hom as 'n simbool gesien. Soos pres. Paul Kruger 'n simbool van Suid-Afrika se nasionale aspirasies was, so was ds. Van Rooy vir hom 'n simbool van godsvrug, van arbeidsaamheid in belang van land en volk, van offervaardigheid en nederigheid.[1]