’n Kristal is ’n soliede materiaal wat bestaan uit atome, molekules of ione wat in 'n geordende patroon gerangskik is in al drie ruimtedimensies. Benewens hul mikroskopiese struktuur kan groot kristalle gewoonlik geëien word aan hul makroskopiese geometriese vorm, wat bestaan uit plat oppervlakke met spesifieke, kenmerkende oriëntasies. Suiwer stowwe vorm gewoonlik kristalle en word kristalvormig of kristallyn genoem. Materiale wat nie 'n geordende patroon vorm nie, word amorf genoem.
Die wetenskaplike studie van kristalle word kristallografie genoem en die proses waardeur kristalle vorm, kristallisering.
Voorbeelde van groot kristalle sluit in sneeuvlokkies, diamante en tafelsout. Voorbeelde van amorfe materiale sluit in glas, was en plastiek. Kristalglas is ook nie kristallyn nie.
Kristalle word gevorm wanneer 'n vloeistof in 'n vaste stof oorgaan en dit bestaan uit atome, ione en molekules wat simmetries gerangskik is. 'n Kristal word begrens deur plat vlakke wat so reëlmatig saamgestel is dat dit in die algemene voorkoms van die gekristalliseerde stat uiting vind. In die natuur is daar pragtige voorbeelde van kristalle, waarvan die kwartskristal een is.
Die woord kristal kan enigsins verwarrend wees aangesien dit na sowel 'n enkele kristal- wat uit klein kristalletjies bestaan - as na een van die kristalletjies kan verwys. Dit moet daarom as sodanig gelees word. Die uitwendige struktuur van kristalle kan verskil al het dit dieselfde inwendige struktuur, en die strukture word in die kristallografie bestudeer. Daar word dikwels van kristal modelle gebruik gemaak om die fisiese eienskappe daarvan te beskryf. Die kwantummeganika speel hierby 'n belangrike rol.