L'Agulhas | |
---|---|
'n Uitsig oor L'Agulhas | |
Koördinate: 34°39′20″S 20°1′0″O / 34.65556°S 20.01667°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Distrik | Overberg |
Munisipaliteit | Kaap Agulhas |
Oppervlak | |
• Totaal | 7,49 km2 (2,89 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 548 |
• Digtheid | 73/km2 (190/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 86.3% |
• Indiërs/Asiërs | 0.2% |
• Bruin mense | 4.6% |
• Swart mense | 7.1% |
• Ander | 1.8% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 80.7% |
• Engels | 17.0% |
• Ander | 2.3% |
Poskode (strate) | 7287 |
Skakelkode | 028 |
L’Agulhas (Portugees vir Die Naald) is ’n kusdorpie in die Wes-Kaapprovinsie van Suid-Afrika en die suidelikste nedersetting op die Afrika-vasteland. Dit is net noordoos van Kaap Agulhas, die suidelikste punt van Afrika, geleë, waar die Indiese en Atlantiese Oseaan amptelik bymekaarkom.
Vroeë Portugese seevaarders wat om hierdie gevaarlike punt gevaar het, het dit L'Agulhas genoem, wat Die Naald beteken (met verwysing na die ru, skerp rotse van die kuslyn en omrede die kompas geen werklike afwyking tussen die Ware Noord en Magnetiese Noord op hierdie plek getoon het nie).
L'Agulhas kry sy ryke erfenis van die skipbreukelinge van verskillende nasionaliteite wat hul in hierdie afgesonderde gebied kom vestig het. Die winderige en ruwe pragkusvlakte vorm ook deel van die Agulhas Nasionale Park wat meer as 8 500 blomspesies het. Die kuslyn het ook 'n ryke seelewe, wat ook die broeiplek is van skaars voëlsoorte soos die swarttobie.
Hier kan die besoeker die vuurtoringmuseum en aandenkingswinkel besigtig. Die koppie agter die vuurtoring bied 'n uitsig waar die twee oseane ontmoet, skepe verbyvaar en die Suidelike noorkapper in die lente en vroeë somer rondbaljaar.
Die eintlike mees suidelike punt van Afrika is 1 km wes van die vuurtoring en is gebaken deur 'n eenvoudige klipstapel. Oos van hierdie punt is vywers wat duisende jare gelde deur die bewoners gebou is. Hierdie vywers is gemaak deur "damme" al rondom die vlakwater te bou sodat die visse tydens laaggety vasgekeer word. Party hiervan het die eeue deurstaan en word selfs vandag nog gebruik. Die ontdekking van kliphaard, potwerk en skulpafvalhope is waardevolle geskiedkundige nalatenskap van die Strandlopers. In die koppie staan 'n bouvallige Britse fort, terwyl die seepoel in Georgestraat as die Soldategat bekend staan.
Die seewater is baie vlak en L'Agulhas is bekend as 'n goeie hengelplek. L'Agulhas bied ook etlike voetslaanpaaie, asook gety- en rotspoele om in te swem.
Die Kaap Agulhasvuurtoring is die tweede oudste in die land en is aan die suidelike deel van die dorp opgerig. Die vuurtoring is na die Pharos van Alexandrië ontwerp.
Regonder Spookdraai (aan die begin van die dorp) aan die kus, is daar 'n historiese waterkrip. Langsaan is 'n tweetalige bronsplaat opgerig met die volgende Afrikaanse bewoording: