Latynse letterkunde sluit die essays, geskiedenisse, gedigte, toneelstukke en ander geskrifte in wat in die Latynse taal geskryf is. Die begin van formele Latynse literatuur dateer uit 240 vC, toe die eerste verhoogstuk in Latyn in Rome opgevoer is. Latynse letterkunde het vir die volgende ses eeue gefloreer. Die klassieke era van Latynse letterkunde kan rofweg in verskeie tydperke verdeel word: Vroeë Latynse letterkunde, Die Goue Eeu, Die Keisertydperk en Laat Oudheid.
Latyn was die taal van die antieke Romeine sowel as die lingua franca van Wes- en Sentraal-Europa deur die Middeleeue. Latynse literatuur bevat die werk van Romeinse skrywers, soos Cicero, Vergilius, Ovidius en Horatius, maar sluit ook die werk van Europese skrywers na die val van die Ryk in; van godsdienstige skrywers soos Aquinas (1225–1274), tot sekulêre skrywers soos Francis Bacon (1561–1626), Baruch Spinoza (1632–1677) en Isaac Newton (1642–1727).