'n Litiumioonbattery (soms Li-ion battery) is 'n lid van 'n familie van herlaaibare batterye wat litiumione beweeg van die negatiewe elektrode na die positiewe elektrode tydens ontlading, en terug wanneer die battery weer herlaai word. Litiumioonbatterye gebruik 'n organiese litiumverbinding as een elektrodemateriaal, in teenstelling met die metaal litium wat gebruik word in 'n nie-herlaaibare litiumbattery. Die elektroliet, wat voorsiening maak vir ioniese beweging, en die twee elektrodes is die samestellende komponente van 'n litiumioonbatterysel.
Litiumioonbatterye is algemeen in huiselektronika. Hulle is van die mees populêre vorme van herlaaibare batterye vir draagbare elektroniese toestelle, met 'n hoë energie-digtheid, klein geheue effek[1] en 'n lae self-ontlading. Buiten in verbruikerselektronika, groei litiumioonbatterye ook in gewildheid vir militêre, elektriese batteryvoertuig- en lug- en ruimtevaarttoepassings.[2]
Litiumioonbatterye[3] is tans besig om 'n gemeenskaplike plaasvervanger vir loodsuurbatterye te word, wat histories gebruik is vir gholfkarretjies en nutsvoertuie. In plaas van swaar loodplate en suurelektroliet, is die neiging om eerder liggewig litiumioonbatterypakke te gebruik wat dieselfde spanning bied as loodsuurbatterye, sodat daar geen verandering aan die voertuig se aandryfstelsel nodig is nie.
Die batterye het in 2013 bekend geraak toe hulle brande aan boord van die Boeing 787 Dreamliner veroorsaak het.