Magellaanse Wolke

Die Groot Magellaanse Wolk.

Die Magellaanse Wolke is twee onreëlmatig gevormde dwergsterrestelsels wat digby ons eie Melkweg in die Plaaslike Groep lê. Hulle staan bekend as die Groot en die Klein Magellaanse Wolk. Vir die mense van die Suidelike Halfrond is die twee sterrestelsels steeds met die blote oog sigbaar; die oudste verwysing in die Persiese sterrekyker Al Soefi se Boek van die Sterre dagteken uit die jaar 964.

Die Portugese seevaarder Ferdinand Magellaan is die eerste Europeër wat die Magellaanse Wolke in die jaar 1519 beskryf het. Met die teleskoop word die Groot Magellaanse Wolk as 'n klomp sterre, sterregroepe, newels, stof en gas herkenbaar.

Met 'n deursnee van sowat 50 000 ligjare en 'n massa van 25 miljard sonmassas, is die Groot Magellaanse Wolk ná ons Melkweg, die Andromeda- en die Driehoek-sterrestelsel die vierde grootste sterrestelsel in die Plaaslike Groep, met sowat tien persent van die groep se massa. Daar is net twee dwergsterrestelsels, Canis Major en Sagittarius, wat nog nader aan ons eie Melkweg lê.

Die Groot Magellaanse Wolk lê in die sterrebeelde Swaardvis en Tafel, en die Klein Magellaanse Wolk in Toekan. Die klein afstande en hul uitgestrekte vorm lei daartoe dat ons op die Aarde 'n skynbare deursnee van respektiewelik sowat 6° en 3,5° waarneem. Hulle is gevolglik vir mense in die Suidelike Halfrond met die blote oog sigbaar.


Magellaanse Wolke

Dodaje.pl - Ogłoszenia lokalne