Die Makkabese Opstand (Hebreeus: מרד החשמונאים) was 'n Joodse rebellie onder leiding van die Makkabeërs teen die Seleukidiese Ryk en teen Hellenistiese invloede op die Joodse lewe. Die hooffase van die opstand het van 167 tot 160 v.C. geduur en het geëindig met Seleukidiese beheer in Judea. Konflik tussen die Makkabeërs, vergriekste Jode en Seleukiede het egter nog voortgeduur tot in 134 v.C., met die Makkabeërs wat eindelik onafhanklik geword het.
Die Seleukidiese koning Antiochus IV Epifanes het in 168 v.C. 'n enorme onderdrukkingsveldtog teen die Jode gevoer. Die rede is nie heeltemal duidelik nie, maar dit lyk of hy 'n interne konflik onder die Joodse priesters aangesien het vir 'n volskaalse rebellie. Joodse praktyke is verbied, Jerusalem is onder regstreekse Seleukidiese beheer geplaas en die Tweede Tempel in Jerusalem is omskep in 'n terrein vir 'n sinkretiese heidens-Joodse kultus. Dié onderdrukking het presies die opstand ontketen wat Antiochus IV gevrees het,[1] met 'n groep Joodse vegters wat in 167 v.C. gerebelleer en onafhanklikheid gesoek het. Die rebelle het as 'n geheel bekend geraak as die Makkabeërs en daar sou later in 1 Makkabeërs en 2 Makkabeërs van hulle dade vertel word.
Eindelik sou interne verdelings onder die Seleukiede en probleme elders in hulle ryk die Makkabeërs die kans gee op behoorlike onfhanklikheid. In 141 v.C. het Simon Thassi daarin geslaag om die Grieke uit hulle Acra-fort in Jerusalem te verdryf. 'n Verbond met die Romeinse Republiek het hulle gehelp om hulle onafhanklikheid te vestig. Simon sou later die onafhanklike Hasmonese koninkryk stig.
Die opstand het 'n groot invloed op Joodse nasionalisme gehad as 'n voorbeeld van 'n suksesvolle veldtog om politieke onafhanklikheid te vestig en anti-Joodse onderdukking deur die regering teen te staan.