Die Mausoleum van Halikarnassos of Praalgraf van Mausolus (Persies: آرامگاه هالیکارناسوس; Grieks: Μαυσωλείο της Αλικαρνασσού; Turks: Halikarnas Mozolesi) was ’n praalgraf wat tussen 353 en 350 v.C. in Halikarnassos (die hedendaagse Bodrum, Turkye) gebou is vir Mausolus, ’n satraap in die Persiese Ryk, en Artemisia II van Karië, sy vrou en suster. Dit is ontwerp deur die Antiek-Griekse argitekte Satyros en Pytheos.[1][2]
Die mausoleum was sowat 45 meter hoog en die vier sye was versier met reliëfwerke wat elk deur ’n ander Griekse beeldhouer geskep is: Leochares, Bryaxis, Scopas van Paros en Timotheus.[3] Die eindprojek was so ’n estetiese triomf dat Antipater van Sidon dit gekies het as een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld. Dit is van die 12de tot die 15de eeu in verskeie aardbewings verwoes.[4][5][6]
Die woord "mausoleum", wat "gebou van Mausolos" beteken het, is nou ’n algemene term vir ’n bogrondse praalgraf.