Michail Kalasjnikof | |
---|---|
In die Kremlin, Moskou (Desember 2009). | |
Gebore | Michail Timofejewitsj Kalasjnikof 10 November 1919 Koerija, Altai-krai |
Sterf | 23 Desember 2013 (op 94) |
Nasionaliteit | Russies |
Beroep | Wapenontwerper Russiese militaris |
Bekend vir | Ontwerper van die AK-47 en AK-74 |
Titel | Luitenant-generaal |
Eggenoot | Jekaterina Kalasjnikowa |
Luitenant-generaal Michail Timofejewitsj Kalasjnikof (Russies: Михаи́л Тимофе́евич Кала́шников; 10 November 1919 – 23 Desember 2013) was ’n Russiese wapenontwerper wat veral bekend was vir die ontwerp van die AK-47.
Kalasjnikof is in 1938 deur die Rooi Leër opgeroep as ’n tenkdrywer en –werktuigkundige. In Oktober 1941 is hy gewond en vir ses maande huis toe gestuur om te herstel. Daar het hy ander soldate hoor kla oor die Sowjet-gewere van destyds. Hy is daardeur geïnspireer om ’n nuwe handmasjiengeweer te ontwerp.[1]
Hoewel sy eerste en ’n latere poging nie sukses behaal het nie, het hy in 1946 aan ’n kompetisie deelgeneem om ’n aanvalsgeweer te ontwerp.[2] Sy inskrywing, genoem "Michtim" (van Michail Timofejewitsj) het gewen en die prototipe geword vir die ontwikkeling van ’n reeks gewere.[3]
In 1947 het hy die AK-47 (Awtomat Kalasjnikof 1947) ontwerp. In 1956 het dit die Sowjet-weermag se standaardgeweer vir soldate geword. Kalasjnikof het al van sy nalatenskap gesê: "Ek sou verkies het om ’n masjien te ontwerp wat mense kon gebruik het en wat boere kon gehelp het, soos ’n grassnyer."[4]