Die moord op die Romanofs het in die nag van 16-17 Julie 1918 in Jekaterinburg, Rusland, plaasgevind toe dié land se keiserlike gesin (Nikolaas II, sy vrou, Aleksandra Fjodorowna, en hulle vyf kinders, Olga, Tatjana, Maria, Anastasia en Aleksei) deur Bolsjewistiese rewolusionêre onder Jakof Joerofski doodgeskiet en met bajonette doodgesteek is op bevel van die Oeralse Sowjet.[1][2] Saam met hulle is 'n paar lede van die huishouding ook vermoor, onder andere hulle geneesheer, dr. Jewgeni Botkin, Aleksandra se kamerbediende Anna Demidowa, die kok Iwan Charitonof en lyfkneg Alexei Trupp.[3] Die liggame is na die Koptjakiwoud geneem, waar hulle ontklee en begrawe is nadat die liggame met handgranate vermink is om identifikasie te voorkom.[2][4]
In 1919 het die Wit beweging 'n ondersoek gelas na die moorde, maar kon geen grafte kry nie. Die ondersoeker het tot die gevolgtrekking gekom dat die gesin se oorskot by die mynskag Ganina Jama veras is, aangesien tekens van 'n vuur daar gevind is.[1] In 1979 en 2007 is die Romanofs se oorskot in twee ongemerkte grafte in 'n veld met die naam Porosenkof-kloof ontdek. DNS-ontledings het die identiteit van die gesinslede help vasstel; die laaste twee kinders is eers geïdentifiseer nadat hulle oorskot in 2007 in 'n tweede graf ontdek is.[5]
Ná die Februarie-rewolusie is die Romanof-gesin en van hulle bediendes in die Aleksander-paleis in Tsarskoje Selo aangehou voordat hulle na Tobolsk, Siberië, geskuif is. Hulle is daarna na 'n huis in Jekaterinburg, naby die Oeralgebergte, geskuif voordat hulle in Julie 1918 vermoor is, waarskynlik op bevel van Wladimir Lenin.[6] Die Bolsjewiste het aanvanklik net Nikolaas II se dood aangekondig,[7][8] hoewel aan hulle gesê is "dieselfde lot het die hele gesin getref".[9] Volgens die amptelike nuusvrystelling is "Nikolaas Romanof se vrou en seun na 'n veilige plek gestuur".[9]
Volgens die amptelike staatsweergawe van die Sowjetunie is oudtsaar Nikolaas Romanof saam met lede van sy gesin en gevolg op bevel van die Oeralse Sowjet deur 'n vuurpeloton doodgeskiet weens die gevaar dat die stad oorgeneem sou word deur die Wit Leër (Tsjeggo-Slowaakse Legioen).[10][11] Baie navorsers glo Wladimir Lenin, Jakof Swerdlof en Feliks Dzerzjinski het die teregstelling gelas.[12][13]
Meer as agt jaar lank[14] het die Sowjetleiers 'n stelselmatige web van verkeerde inligting oor die lot van die gesin geweef,[15] van 'n bewering in September 1919 dat die gesin deur linkse rewolusionêre vermoor is[16] tot 'n algehele ontkenning in April 1922 dat hulle dood is.[15] Die Sowjette het eindelik in 1926 die gesin se dood bevestig ná die publikasie in Frankryk van 'n ondersoek in 1919 deur 'n monargis wat die land verlaat het. Hulle het egter gesê die lyke is vernietig en dat Lenin se kabinet nie verantwoordelik was nie.[17] Dié verslag het gerugte laat ontstaan dat van die lede van die gesin oorleef het.[18]
Die grafte is in 1979 ontdek deur Aleksander Awdonin, 'n amateurspeurder.[19] Die identiteit van die oorskot is later deur forensiese en DNS-toetse bevestig. In 1998, altesaam 80 jaar ná die moorde, is die Romanof-gesin se oorskot in Sint Petersburg begrawe.[20] Die Russies-Ortodokse Kerk was egter steeds skepties oor die identiteit van die betrokkenes.[21]
In 2008, ná 'n lang regstryd, het die kantoor van die Russiese prokureur-generaal die gesin gerehabiliteer as "slagoffers van politieke onderdrukking".[22]