Die NG gemeente Alice in die Oos-Kaap was die 89ste oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en sou in 2012 150 jaar oud gewees het, maar is in die tweede helfte van die jare tagtig gedwing om by die NG gemeente Fort Beaufort in te lyf nadat die Nasionale Party-regering se beleid om tuislande te konsolideer, daartoe gelei het dat die dorp Alice binne-in die Ciskei geval en die meeste lidmate gevolglik weggetrek het. In 1985 het Alice se gemeente slegs 61 belydende lidmate en 28 dooplidmate oorgehad.