Die NG gemeente Boksburg was 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die Oos-Rand van Gauteng en die moedergemeente van al die latere NG gemeentes in die Oos-Randse dorpe en stede, soos Germiston, Alberton, Kempton Park, Benoni, Brakpan, Springs en Delmas. Reeds in 1952 het die gebied wat oorspronklik binne die gemeentegrense van die moedergemeente geval het, uit 27 gemeentes bestaan. Teen die 21ste eeu het die getal tot sowat 60 aangegroei, ondanks talle inlywings en samesmeltings.