Die NG gemeente Darling is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die kusdorp Darling in die Weskus-gebied van die Wes-Kaap. Die gemeente se kerkgebou in Kerkstraat is deur Wynand Louw ontwerp en die hoeksteen is in 1958 gelê. Hulle bedien ook die Yzerfontein-gebied en ressorteer onder die sinode van die Wes-en-Suid-Kaap.
Die gemeente het aanvanklik ’n deel van die NG Gemeente Swartland uitgemaak en was vanaf 1833 onder die bearbeiding van ds. F.C. Le Febre Moorrees. Reeds in Oktober 1844 maak hy sy kerkraad bekend “het voornemen van enige Ingezetenen van Groenekloof om aldaar eene Kerk te stichten”, maar dit was eers in Februarie 1853 dat die inwoners die plaas Langfontein uit die boedel van wyle mev. Crowcher vir 50 000 guldens aangekoop het. In Desember 1853 verskyn die grensskeidings van Darling, so genoem na die toenmalige goewerneur, Charles Henry Darling, in De Kerkbode.
Op 19 September 1857 is die eerste kerkgebou deur ds. Moorrees van Swartland ingewy. As voorleser, onderwyser en koster het die heer J. Schelling opgetree.