Die NG gemeente Smithfield is op 23 November 1848 gestig op die Vrystaatse dorp Smithfield as die vierde gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat en die 38ste gemeente van die hele Kerk. Winburg is die oudste Vrystaatse gemeente (gestig in 1841 as die 27ste gemeente in die Kerk). Smithfield is agt maande ná die NG gemeente Fauresmith (11 Maart 1848) en slegs vyf dae voor die NG gemeente Bloemfontein (30 November 1848) gestig. Die enigste ander nuwe NG gemeente in daardie jaar was Napier op 26 Januarie.