Nineve | ||
Die herboude Masjkipoort van Nineve, naby die huidige Mosoel, Irak. | ||
Plaaslike naam | Ninua | |
Land | Irak | |
Soort | Antieke nedersetting | |
Geskiedenis | ||
Stigter | Nimrod/Assjoer | |
Tydperk | Tot 612 v.C. | |
Kulture | Mesopotamies | |
Uitgrawings | Sedert die 19de eeu | |
Bewoners | 100 000 tot 150 000 |
Nineve (Akkadies: Ninua; voorheen Ninevé in Afrikaans) is ’n antieke Mesopotamiese stad aan die oosteroewer van die Tigrisrivier; dit was die hoofstad van die Nieu-Assiriese Ryk en ’n belangrike kruispunt van handelsroetes op die Tigris. Dit het veral tydens die bewind van koning Assurnasirpal II begin floreer. Die stad het tussen 100 000 en 150 000 inwoners gehad. In sy mure was 15 poorte en ’n uitgebreide stelsel van 18 kanale het water uit die heuwels na Nineve vervoer.
Dit was sowat 50 jaar lank die grootste stad in die wêreld.[1] Die voorspelling van die verwoesting van Nineve in die Bybel het later gelei tot die berou en redding van die inwoners. Dit is egter eindelik in 612 v.C., ná ’n bitter tydperk van burgeroorlog in Assirië, verwoes deur ’n ongewone koalisie van voormalige inwonervolke, die Babiloniërs, Mede, Perse, Galdeërs, Skitiërs en Kimmeriërs. Die stad se ruïnes lê oorkant die rivier van die moderne stad Mosoel in Irak. Die twee belangrikste grafheuwels binne die stadsmure is Kouyunjik, die Noordelike Paleis, en Nabi Joenoes.
Uitgrawings word sedert die 19de eeu op die terrein gedoen, en talle paleise en tempels is al ontdek. Van die stadspoorte is ook gerekonstrueer. Groot kommer bestaan egter tans oor die agteruitgang van die terrein, veral weens moderne uitbreidings in die gebied, plundery en die optrede van die ekstremistiese militantegroep Isis.