Nuweland-krieketveld | ||
Lugbeeld van Nuweland-krieketveld
| ||
Bynaam | Saharapark Nuweland | |
---|---|---|
Ligging | Nuweland, Kaapstad, Suid-Afrika | |
Koördinate | 33°58′25.32″S 18°28′8.16″O / 33.9737000°S 18.4689333°O | |
Eienaar | Westelike Provinsie Krieketunie | |
Kapasiteit | 25 000 | |
Oppervlak | Gras | |
Konstruksie | ||
Gebou | 1889 | |
Renovasie | 1991 | |
Huurders | ||
Kaapse Kobras (2005–hede); Proteas Cape Town Blitz (2018–hede) |
Nuweland-krieketveld in Kaapstad is 'n Suid-Afrikaanse krieketveld.[1] Dit is die tuiste van die Kaapse Kobras, wat in die Sunfoilreeks, Momentum-eendagbeker en Standard Bank Pro20-kompetisies meeding. Dit is ook 'n stadion waar toetskrieket gespeel word. Nuweland word beskou as een van die mooiste krieketvelde ter wêreld, wat oorskadu word deur Tafelberg en Duiwelspiek. Nuweland word verder bevoordeel deur 'n Kaaps-mediterreense klimaat met winterreënval, wat perfekte weer toelaat om krieket in te speel en te kyk. Dit is naby aan Nuwelandstadion, wat 'n groot rugby- en sokkerstadion is.
Die veld bied sy eerste toetswedstryd aan op 24–25 Maart 1889 toe Engeland Suid-Afrika met 'n beurt en 202 lopies geklop het. Teen Januarie 2020 is daar 55 toetswedstryde op die veld gespeel, waarvan Suid-Afrika 23 gewen, 21 verloor en 11 onbeslis geëindig het. Die laaste span om Suid-Afrika hier te klop was Engeland in Januarie 2020.[2]
Die eerste Internasionale eendagwedstryd is op 7 Desember 1992 hier gespeel, toe die Proteas teen Indië met ses paaltjies gewen het. Teen Junie 2019 is daar 41 EDIs op die veld gespeel, insluitende vyf in die Krieketwêreldbeker 2003. Suid-Afrika het 30 van sy wedstryde gewen en ses verloor. Indië is die mees onlangse EDI-wenner teen die Proteas (in Februarie 2018).[3]
Tussen 1991 en 1997 is verskeie verbeteringe aan die stadion aangebring. Groot dele van die graswalle is vervang deur pawiljoene, wat die sitplek vermeerder het tot 25 000.
Nuweland is een van die min krieketvelde in Suid-Afrika wat geneig is om draaiboulers te bevoordeel. Die meeste velde is geneig om naatboulers of kolwers te bevoordeel, maar die Wes-Kaap het 'n geskiedenis van goeie draaiboulers, 'n onlangse voorbeeld is Paul Adams.
Die veld het ook uitstalwedstryde in die Australiese-reëls voetbal aangebied. In 1998 het 'n skare van 10 123 die Brisbane Lions teen Fremantle sien speel.