Nyiragongo | |
---|---|
Ligging | Oos-Demokratiese Republiek die Kongo |
Hoogte | 3 470 meter bo seevlak |
Reeks | Virunga-bergreeks |
Koördinate | 1°31′S 29°15′O / 1.517°S 29.250°O |
Bergtipe | Stratovulkaan |
Laaste uitbarsting | 2021 |
Nyiragongo is 'n aktiewe stratovulkaan (samegestelde vulkaan) in die noordooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Die vulkaan is 3 470 meter hoog en lê in die Virunga Nasionale Park. Nyiragongo is op 'n warmkol ("hotspot") in die Groot Skeurvallei. Die vulkaankrater oorvleuel gedeeltelik met twee ouer vulkane, Shaheru en Baruta. Verskeie kleiner slakkegels (of slakkeëls) kan in die omgewing gevind word. Dertien kilometer na die noorde is nog 'n aktiewe vulkaan, Nyamuragira.
Die vulkaan het een van die grootste, permanente lawamere ter wêreld. Die vlak van die meer wissel voortdurend. Die lawa het 'n lae viskositeit en vloei maklik. Dit kom deur die hoër konsentrasie meliliet en nefeliniet. As gevolg hiervan is die lawastome vinnig en uiters gevaarlik.
Nyiragongo is deur IAVCEI as een van die 16 "Vulkane van die Desennium" aangewys as gevolg van die vulkaan se geskiedenis, groot uitbarstings en die nabygeleë bewoonde gebiede. Die vulkaan is 16 km noord van die stad Goma. Hierdie stad is in groot gevaar wanneer die vulkaan tot uitbarsting kom. Net suid lê die Kivumeer, waarin groot hoeveelhede metaan en koolstofdioksied opgelos is. Hierdie gasse kan tydens 'n limniese uitbarsting vrygestel word.