Spele van die XXXIIIe Olimpiade | ||||||||||||||||||||||||
|
Die Olimpiese Somerspele 2024 (Frans: Les Jeux olympiques d'été de 2024), amptelik bekend as die Spele van die XXXIIIste Olimpiade, is tussen 26 Julie en 11 Augustus 2024 in Parys, Frankryk, aangebied. Dit was die 33ste aanbieding van die Somerspele sedert 1896 en die derde keer wat Parys die spele georganiseer het na hulle eerste spele in 1900 en daarna in 1924, presies 100 jaar gelede. Daarmee het Parys naas Londen die tweede stad geword wat driekeer Olimpiese Somerspele aangebied het. Ná die Rugbywêreldbeker 2023 was die Olimpiese Somerspele 2024 die tweede groot sportkompetisie in Frankryk binne een jaar. Tydens die geleentheid het 10 500 atlete uit 204 nasies aan 329 items in 32 verskillende sportsoorte deelgeneem.
Die opening- en sluitingseremonies het in Parys plaasgevind. Vir die eerste keer in die Olimpiese geskiedenis het die openingsseremonie egter nie in 'n stadion plaasgevind nie, die deelnemende lande se atlete het pleks daarvan op skepe die Seinerivier in Parys bevaar.[1] Soos gebruiklik is die lande in alfabetiese volgorde georden met Griekeland eerste en die gasheer Frankryk laaste, maar aangesien die plaaslike taal Frans is, is dié taal se alfabet gebruik om die volgorde te bepaal. Beide Caitlin Rooskrantz (gimnastiek) en Akani Simbine (atletiek) het die Suid-Afrikaanse vlag gedra.[2]
Die Paralimpiese Somerspele 2024 is tussen 4 en 15 September in Parys gehou.