Die Panama-dokumente[1] (Engels: Panama Papers) is 'n groot aantal elektroniese onthullings oor die regsfirma Mossack Fonseca van Jürgen Mossack in Panama-stad. Die onthullings behels 'n verbysterende 2,6 teragrepe inligting wat teruggaan tot 1977, die jaar waarin die firma gestig is. In 1986 is die firma versmelt met 'n klein firma van Ramón Fonseca, 'n Panamese politikus.
Die onthullings is aan die begin van April 2016 bekendgemaak deur die Süddeutsche Zeitung en die International Consortium of Investigative Journalists en behels talle handelstransaksies met belastingsparadyse soos die Britse Maagde-eilande en die Seychelle.[2]
Daar is ook aanduidings dat 33 mense of organisasies wat aan internasionale sanksies onderhewig was deur die firma gehelp is. Daaronder is firmas in Iran, Zimbabwe en Noord-Korea. Een daarvan was betrokke by Noord-Korea se kernprogramme. 'n Ander geval is dié van Rami Makhlouf, Basjar al-Assad, die Siriese oud-president, se neef, wat 'n besit van $5 miljard het.[3]