In musiek is 'n pedaalpunt (ook pedaalnoot, orrelpunt, pedaaltoon of pedaal, hoewel dié artikel volstaan by pedaalpunt) 'n volgehoue noot, tipies (maar nie uitsluitlik nie) in die bas, waartydens ten minste een vreemde (dus dissonante) harmonie in die ander partye geklink word. 'n Pedaalpunt funksioneer soms as 'n "nieakkoordtoon", wat dit in dieselfde kategorieë as terughoudings, vertragings en deurgangsnote plaas. Die pedaalpunt is egter uniek onder nieakkoordtone deurdat dit op 'n konsonans begin, dit deur 'n ander akkoord as 'n dissonansie volhou (of herhaal) totdat die harmonie (en nie die nieakkoordtoon nie) na die konsonans terugkeer.[2]
Pedaalpunte het 'n sterk tonale effek deurdat dit die harmonie terug na sy grondtoon trek.[3] Pedaalpunte kan ook drama, intensiteit of verwagting bou. Wanneer 'n pedaalpunt in 'n ander party as die bas voorkom, word dit gewoonlik 'n omgekeerde pedaalpunt genoem.[4] Pedaalpunte is gewoonlik óf die tonika-, óf die dominanttoon (vyfde noot van die toonleer). Die pedaalpunt word as 'n akkoordtoon in die oorspronklike harmonie beskou, dan 'n nieakkoordtoon tydens die tussenliggende dissonante harmonieë, en dan weer 'n akkoordtoon wanneer die harmonie oplos. 'n Dissonante pedaalpunt kan teen alle harmonieë indruis gedurende die duur daarvan, bykans soos 'n bygevoegde toon eerder as 'n nieakkoordtoon; of pedaalpunte kan as atonale toonhoogtesentrums dien.
Die term pedaalpunt is ontleen aan die orrel weens dié instrument se vermoë om 'n noot vir 'n onbepaalde tyd lank vol te hou en die gebruik dat sulke note op die orrel se pedaalklawerbord gespeel word. Die pedaalklawerbord op 'n orrel word met die voete bespeel; die orrelis kan die pedaalpunt vir uiters lang tye aanhou terwyl albei hande hoërregistermusiek op die handklawerborde uitvoer.