Peter Parler | |
---|---|
Gebore | 1330 of 1333 Gmünd, Ryksstad van die Heilige Romeinse Ryk |
Sterf | 13 Julie 1399 Praag, Koninkryk Boheme, Heilige Romeinse Ryk |
Nasionaliteit | Duits, Boheems |
Beroep | Beeldhouer, argitek |
Bekend vir | Vrouekerk in Neurenberg Sint-Vituskatedraal in Praag Karelsbrug in Praag |
Kinders | Johann Parler Wenzel Parler |
Ouer(s) | Heinrich Parler die Ouere |
Peter Parler (ook bekend as Peter von Gemünd, Parlerius, Parlerz; Tsjeggies: Petr Parléř, Latyn: Petrus de Gemunden in Suevia; * 1330 of 1333 in Gmünd, † 13 Julie 1399 in Praag) was 'n Duits-Boheemse beeldhouer en argitek uit die befaamde Parler-familie van meesterbouers wat, saam met sy vader, Heinrich Parler, bekendheid verwerf het as een van die invloedrykste en vernaamste Gotiese ambagsmanne en katedraalboumeesters in Middeleeuse Europa.
Parler het sy opleiding in sy geboortestad Schwäbisch Gmünd ontvang en was gedurende sy loopbaan betrokke by 'n verskeidenheid laat Middeleeuse bouprojekte in onder meer Straatsburg, Keulen en Neurenberg. In 1356 het Parler hom in Praag gevestig, die hoofstad van die Koninkryk Boheme en destydse keiserlike setel van die Heilige Romeinse Ryk. Hier het twee van sy mees befaamde werke ontstaan - die Karelsbrug en die Sint-Vituskatedraal.