Praagse kasteel

Die Praagse kasteel, soos gesien vanuit die suidweste

Die Praagse kasteel (Tsjeggies: Pražský hrad) is die grootste geslote kasteelkompleks ter wêreld met 'n oppervlakte van 45 hektaar, bestaande uit paleise, administratiewe geboue, kerke, versterkings en tuine, geleë op die bergpiek Hradčany wat 'n panoramiese uitsig oor die Tsjeggiese hoofstad Praag bied.[1] Die kasteel se oorspronge strek terug tot in die 9de eeu. Dit is sindsdien deur generasies van boumeesters in 'n verskeidenheid argitektoniese style omgebou en uitgebrei. Die 14de eeuse Rooms-Katolieke Sint-Vituskatedraal het in die sentrum van die kasteelkompleks ontstaan. Hier, in die sogenaamde Kroonkamer, word die Boheemse kroonjuwele bewaar.

Die kasteel het as setel van Boheemse hertoë en konings, twee van die Heilige Romeinse Ryk se keisers en Tsjeggo-Slowaakse staatspresidente gedien. Tans is die Praagse kasteel, wat in 2016 die mees besoekte besienswaardigheid in Praag en heel Tsjeggië was,[2] die amptelike setel van die president van die Tsjeggiese Republiek.

Op 23 Mei 1618 het 'n historiese gebeurtenis hier afgespeel wat tot die Dertigjarige Oorlog en ingrypende politieke veranderinge in Europa sou lei – die sogenaamde Tweede Praagse Defenestrasie waartydens die Heilige Romeinse Keiser se Praagse stadhouers, Jaroslaw von Martinitz en Wilhelm von Slavata, saam met die geheime skrywer Philipp Fabricius Platter uit die venster gegooi is. Die drie mans het tussen 15 en 16 meter diep geval, maar in 'n groot vullishoop beland. Slegs Wilhelm von Slavata is beseer. Die toneel van die historiese gebeure, 'n kamer in die kasteel se Lodewyksvleuel, bestaan steeds.[3]

  1. Prague City Tourism: Prager Burg (Pražský hrad). Besoek op 4 Julie 2017
  2. Radio Praha, 12 Junie 2017: Prager Burg ist weiterhin das meistbesuchte Touristenziel Tschechiens. Besoek op 2 Julie 2017
  3. Jan von Flocken: Prager Fenstersturz als Auftakt zur Katastrophe. In: welt.de, 11 Augustus 2007. Besoek op 2 Julie 2017

Praagse kasteel

Dodaje.pl - Ogłoszenia lokalne