Sagittarius A* | ||||
Die akkresieskyf om Sagittarius A*, soos in 2017 afgeneem deur die Event Horizon-teleskoop; uitgereik in Mei 2022. | ||||
Sterrebeeld | Boogskutter | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 17h 45m 40.0409s | |||
Deklinasie | −29° 0′ 28.118″[1] | |||
Besonderhede | ||||
Massa (M☉) | 8,26×1036 kilogram 4,154±0,014×106[2] | |||
Afstand (ligjaar) | 26 673±42[2] | |||
Ander name | ||||
Sgr A* | ||||
|
Sagittarius A* (uitgespreek "Sagittarius A-ster"; afkorting Sgr A*) is die supermassiewe swartkolk[3][4] in die middel van die Melkweg. Dit is geleë naby die grens tussen die sterrebeelde Boogskutter (Sagittarius) en Skerpioen (Scorpius), sowat 5,6° suid van die sonnebaan,[5] visueel naby die Skoenlapper-sterreswerm (Messier 6) en die ster Shaula (Lambda Scorpii).
Die voorwerp is 'n helder en baie kompakte radiobron. Die naam Sagittarius A* is om historiese redes daaraan gegee. In 1954[6] het John D. Kraus, Hsien-Ching Ko en Sean Matt by 250 MHz na die radiobronne geluister wat hulle geïdentifiseer het met die radioteleskoop van die Universiteit van Ohio. Hulle het die bronne gerangskik volgens sterrebeeld en het hoofletters toegeken in volgorde van helderheid binne elke sterrebeeld; A het die helderste radiobron binne die sterrebeeld aangedui. Die asterisk (*) is later bygevoeg omdat die ontdekking as opwindend (exciting) beskou is,[7] in ooreenstemming met die naam vir atome in 'n opgewekte (excited) toestand wat met 'n asterisk aangedui word (die opgewekte toestand van helium is byvoorbeeld He*). Die asterisk is in 1982 toegevoeg deur Robert L. Brown,[8] wat verstaan het die sterkste radio-emissie van die middel van die sterrestelsel kom moontlik van 'n kompakte, nietermiese radiovoorwerp.
Waarnemings van verskeie sterre, veral S2, in ’n wentelbaan om Sagittarius A* is gebruik om die massa en grootte van die voorwerp vas te stel. Op grond van dié waarnemings is bepaal dat Sagittarius A* die ligging is van die Melkweg se supermassiewe swartkolk,[9] soos dié wat nou algemeen aanvaar word in die middel van die meeste spiraal- en elliptiese sterrestelsels voorkom. Die huidige raming van sy massa is 4,154 (± 0,014) miljoen sonmassas.[2]
Die astrofisici Reinhard Genzel en Andrea Ghez het in 2020 die Nobelprys vir fisika gewen vir hulle ontdekking dat Sagittarius A* 'n supermassiewe, kompakte voorwerp is, waarvoor 'n swartkolk destyds die enigste sinvolle verduideliking was.[10]
Op 12 Mei 2022 het sterrekundiges 'n foto (regs bo) van die akkresieskyf om Sagittarius A* uitgereik wat deur die Event Horizon-teleskoop, 'n wêreldwye netwerk van radiosterrewagte, geskep is met data van April 2017.[11] Dit het bevestig dat die voorwerp 'n swartkolk is. Dit is slegs die tweede bevestigde foto van 'n swartkolk, ná dié in 2019 van die supermassiewe swartkolk in Messier 87.[12][13] Die swartkolk self kan nie gesien word nie; net nabygeleë voorwerpe wat deur die swartkolk beïnvloed word. Die waargenome radio- en infrarooi-energie kom van gas en stof wat tot miljoene grade verhit word terwyl dit in die swartkolk val.[14]
<ref>
tag; no text was provided for refs named NYT-20220512
<ref>
tag; no text was provided for refs named DetectionOfBlackHoleSrgA