Samuel Cronwright | |
---|---|
Samuel Cronwright | |
Gebore | Samuel Cron Cronwright 26 Januarie 1863 Distrik Bedford |
Sterf | 8 September 1936 |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Boer, politikus, eiendomsagent, skrywer |
Bekend vir | Eggenoot van Olive Schreiner, biograaf en lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering |
Eggenoot | Olive Schreiner |
Kinders | Twee dogters, van wie een net 16 uur gelewe het |
Ouer(s) | Samuel Cronwright en Zipporah Featherstone |
Handtekening | |
Samuel Cron Cronwright (distrik Bedford, Kaapland, 26 Januarie 1863 – Rondebosch, 8[1] of 9[2] September 1936) was 'n Suid-Afrikaanse openbare figuur, boer, prokureur, sakeman, politikus en 'n biograaf[3] van sy eerste vrou, Olive Schreiner, wie se van hy van hul huwelik in Februarie 1894 tot vier jaar ná haar dood in 1920 deel van syne gemaak het, toe hy bekendgestaan het as Samuel Cron Cronwright-Schreiner. Dit was destyds selfs meer ongewoon as vandag, maar hy het dit op haar versoek gedoen omdat hy haar oortuigings oor vroueregte en die bevryding van die vrou gedeel het.
Cronwright het met die jare 'n omstrede figuur geword weens sy biografie oor sy vrou, The life of Olive Schreiner (1924), en veral weens die wyse waarop hy haar briewe uitgekies, geredigeer en gesny het voor hy dit gepubliseer het, asook die publikasie van sommige van haar werke wat sy uitdruklik in haar testament gevra het nie gepubliseer moet word nie.
Hy is ook al daarvan beskuldig dat hy geen begrip vir sy vrou se genialiteit gehad het nie.[4] Hy word beskryf as 'n gevoelsmens, pleks van 'n letterkundige, en hoewel hy intelligent was en heelwat werke uit sy pen verskyn het, word hy selde enigsins as 'n skrywer beskou, veral nie een met meriete nie. Sy benadering tot sy vrou se geskrifte word ook as "fantasieloos" beskryf omdat hy deurentyd feite van versinsels wou skei, iets waarop sy nooit gesteld was nie.
Tog het hy veral in die eerste jare van hul getroude lewe feitlik alles opgeoffer ter bevordering van haar skrywersloopbaan en altyd getrou aan haar gebly. Dit het dan ook 'n tyd lank geblyk dat hy bestendigheid in haar lewe sou kon bring, veral toe die sekerheid van moederskap meer aantreklikheid aan die huwelik verleen het.
Toe sy dit ná skaars 'n jaar op sy huurplaas, Krantz Plaats in die distrik Cradock, nie meer kon uithou nie weens haar gedurige asma-aanvalle en omdat sy stilte en afsondering wou hê terwyl die plaas gewemel het van die werkmense, het hy ter wille van haar die boerdery prysgegee wat hy eiehandig oor nege jaar opgebou het sodat hulle elders kon gaan woon.
Verskeie kritici het met die jare aan die hand gedoen dat haar asma, wat sy aangegee het as die vernaamste rede vir haar rusteloosheid, deur haarself veroorsaak is en die gevolg was van 'n diep gesetelde emosionele onbestendigheid.[5] Niemand twyfel egter daaraan dat die liggaamlike lyding wat sy gevolglik moes verduur, eg was nie.
Toe sy kort ná hul vertrek van die plaas daarop aandring om op Kimberley te gaan woon pleks van op 'n huurplaas waar Cronwright steeds die enigste beroep sou kon beoefen wat hy geken het, moes hy dit laat vaar om aan haar wens gehoor te gee. Enkele jare later, toe hy hom in Johannesburg byna as 'n prokureur bekwaam het, moes hy weereens verhuis weens haar gesondheid.
Volgens Schreiner se biograaf Vera Buchanan-Gould[6] was Olive met al haar eienaardighede teen omstreeks 1910 ’n las vir Cronwright en beweer sy dat hy indertyd nie meer veel selfopofferende toewyding getoon het nie en selfs dat hy, wat die eerste man op De Aar was wat ’n motorkar besit het, so suinig was dat hy geweier het om haar te trakteer op ritte in sy motor en dat sy net toegelaat is om dit uit die verte te bewonder.
Nog ’n biograaf, Johannes Meintjes, voer egter aan dat hy, hoewel hy hard aan sy onderneming gewerk het, nie ’n probleem met haar talle eksentrisiteite gehad het nie, dat dit hom net nog liewer vir haar gemaak het en hoewel sy kwaai druk op sy senuwees moes geplaas het, hy haar steeds met die grootse geduld versorg het.
Biograwe verskil oor die laaste dekade van hul lewe. Sommige beweer die egpaar het ál meer van mekaar verwyderd geraak totdat hulle van omstreeks 1913 af tot haar dood in 1920 so te sê vervreemd was. Volgens hulle het die twee eers tydens die laaste maand van haar lewe, in Londen, versoen geraak voordat sy na haar vaderland teruggekeer het om daar te sterf.
Meintjes skryf egter dat hulle voortdurend liefdesbriewe aan mekaar geskryf het en opreg na mekaar verlang het toe hulle, weens die Eerste Wêreldoorlog, noodgedwonge geskei was.